Wyle Hennie en Lettie Smit saam met Tokkie van Deventer op Melkbos se strand.

Wyle Hennie en Lettie Smit saam met Tokkie van Deventer op Melkbos se strand.

Kort na die onverwagte dood van my studentemaat Hennie se vrou, Lettie, bel ek op ‘n dag Potchefstroom toe om te hoor hoe hy daar op die plaas so alleen regkom. Hy hou maar besig met dit en dat, antwoord Hennie op sy rustige manier. Sy groot projek op die oomblik is Lettie se kombuiskaste.

‘n Paar sekondes neem daardie mededeling die die wind uit my seile. “Lettie se kombuiskaste?” My eie stem klink vir my bra krakerig en onseker. Hennie snap dadelik my ongemak. Hy verduidelik – dalk so ietwat geamuseerd.

Lettie het ‘n rukkie voor haar dood ‘n klompie geld geërf. Sy besluit toe dis tyd om haar met iets spesiaals te bederf. Dit het haar nie lank gevat om vas te pen wat dit sou wees nie. Nuwe kombuiskaste – dis wat haar hart bo alles begeer. Die deugsame Lettie spring toe in met entoesiasme, begin brosjures versamel en win kwotasies in.

Onthou, dis ‘n plaaskombuis en daar is hope kaste. Die kwotasies wat inkom, is nie kleingeld nie. Die bedrae laat Hennie se oë rek . Wil sy nie maar dat hy die kaste vir haar verjaardag vir haar maak nie, waag hy eindelik. Maar Lettie wil niks weet nie. Dis haar geld, en sy soek professionele kombuiskaste met klas en styl, hou sy vol.

Ai Lettie, probeer Hennie weer. Jy besef tog ek is ver van gesond. Die kanker het my weer beet. Jy hoor hoe hoes ek. Die ou hart is weer aan die rittel en beef. As jy nou toelaat dat ek vir jou die kaste maak , dan het hy jy darem iets om vir jou vriendinne te wys as die laaste ding wat ek voor my dood vir jou gedoen het.

Lettie wil-wil huiwer. Hennie se pleidooi tref haar diep. So het sy nog nooit aan die saak gedink nie. Maar tog …. “Nee Hennie,” byt sy vas, “ek gaan daardie kaste laat maak by kombuismense wat hul storie ken. Ek betaal self, elke liewe sent. Dis my eie geld wat ek uitgee, nie joune nie. Toe nou, dis nou die laaste woord daaroor.”

Nie lank daarna nie word Lettie skielik siek. Sy moet dringend hospitaal toe, met die duur kaste steeds ‘n ongemaklikheid tussen die twee. Een middag met besoektyd verras sy Hennie egter met haar vraag uit die bloute: “Het jy al die gereedskap wat jy nodig het om die kaste te maak?”

“Watter kaste?” “Die kombuiskaste natuurlik.” “”‘Amper alles,” se Hennie. “Buiten miskien … en hy noem ‘n ‘n byderwetse gereedskappie of twee wat hy hoeka al lank begeer.

“Nou-ja,” sê Lettie, “in die boonste laai van my spieëlkas is my tjekboek met ‘n paar getekende tjeks. Vat soveel geld jy nodig het en koop die regte gereedskap. Dit is my verjaardaggeskenk aan jou. Dan maak jy vir my die kaste as jou verjaardaggeskenk aan my.”

Hennie stap die hospitaal uit met ‘n ligter gemoed. Hy gaan delf die tjekboek uit die laai. Vroeg die volgende oggend is hy by Potchefstroom se voorste hardewarewinkel waar, so warempel, ‘n uitverkoping aan die gang is. Hy verlustig hom aan sy kopies.

Bowenal is in sy hart ‘n lied omdat hy graag vir sy ou beste die kaste wil bou. In sy kop het hy al so half en half ‘n ontwerp. Sy model is ‘n treffer-kombuis in een van die brosjures wat, na sy waarneming, die blinkste blink-oog reaksie by sy vrou uitgelok het.

Enkele dae later lui sy telefoon met die treurige nuus: Lettie se toestand het oornag vinnig verswak en sy in die voordagure onverwags oorlede. ‘n Klassieke geval, soos hy dit later self droogweg gestel het, waar die langslewende eerste gesterf het.

Om daardie beloofde kaste te maak, raak nou vir Hennie ‘n missie. Hy spring aan die werk met vuur en ywer. Elke los oomblik bring hy in die kombuis deur. Die krag-gereedskap dreun en die skaafsels spat tot laat in die nag. Die projek vorder mooi en die kaste is werklik voortreflik in konsepsie en afwerking. Dit sou Lettie ongetwyfeld behaag het, dink Hennie met voldoening as hy met sy hand oor die blink houtoppervlak vryf.

Intussen begin Hennie se voet hom opkeil. Dis ‘n ontsteking wat vinnig versprei en die pyn raak ondraaglik. Hy is van dokter tot dokter, en die prognoses is nie gerusstellend nie. Later kom die bittere uitspraak: amputasie is die enigste uitweg.

Op my laaste besoek aan die plaas kry ek die forse Hennie – ‘ n diskuskampioen wat as veteraan saam met sy seun, Hennie, hoeveel pa-en-seun-kompetisies gewen het – in ‘n rolstoel. Hy lyk bra ontuis, maar dit tref hoe behendig hy tog sy “wiele” tussen die meubels deur maneuvreer.

Na tee en die fynste, fynste botterbroodjies uit die plaaskombuis, kondig hy aan: “Laat ek vir julle (dis nou ek en my vrou, Tokkie) Lettie se kaste gaan wys.”

In die kombuis staan Hennie se meesterstuk plafon-hoog teen vier mure. Dis ‘n formidabele stuk skrynwerk uit donker hout met intense geel vlamme – net hier en daar ontbreek ‘n laaste hoekie of randjie.

Dis nou die af voet se skuld, verduidelik Hennie verontskuldigend. Met die lompe rolstoel kan hy nie oral bykom nie, en sonder die rolstoel het hy geen balans nie. Die afronding sal dus maar moet wag tot die prostese kom en hy die nuwigheid – weer met sy droë humor – deeglik onder die knie het.

Wel, die prostese daag toe op die bestemde tyd op, maar nog voordat die finale meet en pas afgehandel is, val Hennie een oggend in die stort. Hy is duidelik ‘n baie siek mens. Sy kinders jaag met hom hospitaal toe – dieselfde een op Potchefstroom waarin Lettie enkele maande gelede oorlede is.

Hennie ly nie lank nie. Vroeg die volgende oggend, op 10 Maart 2008, blaas hy ook ook daar sy laaste asem uit. Nie weens die vretende kanker, soos hy so lank verwag het nie. Nie aan sy hart waaraan al twee, drie keer geopereer is nie. Ook nie aan komplikasies weens die amputasie van sy voet nie, maar aan dubbele longontsteking.

Nou is daardie knap paar hande van Hennie die hoenderboer stil. Lettie se kombuiskaste sal hy nooit self kan klaarmaak nie. Maar hy het dapper probeer. Ja, jy het waaragtig dapper vasgebyt tot die bittereinde toe, Hennie, ou maat. (HvD)

* ‘n Weergawe van hierdie bydrae tot HvD se Blog verskyn in Huisgenoot van 19 Junie in die rubriek Blaaskans.

Deel dit: