Afrikaner-adel. Die beskrywing van Wynand en Daleen Mouton het spontaan by my opgekom toe ons paaie langer as ‘n kwarteeu gelede in Bloemfontein kruis. Dit is ‘n beskrywing van die voortreflike egpaar Mouton wat mettertyd des te meer geldig geword het. Dit was ‘n lewenservaring om hierdie twee fyn beskaafde, stylvolle, hartlike Christenmense goed te leer ken. Nou is albei binne twee maande na mekaar heen. Dit is amper te onwerklik om tot ‘n mens deur te dring.
As aan twee mense met opperste opregtheid en ongekwalifiseerd lof betuig kan word, dan is dit prof. en mev. Mouton, hoewel hulle – uit ‘n opregte diep gewortelde nederigheid – ongemaklik sou raak as hulle te veel geprys word. Albei het altyd met met insigte en optredes gewys dat hulle meer gawes as gewone sterflinge het, maar sou vinnig enige sodanige vermoede met ’n verleë handwuif afmaak.
Ek sê doelbewus “prof. Mouton” en “mev. Mouton”; nie Wynand of Daleen nie. Oor die formeler aanspreekvorm het ek en hulle meer as een keer koppe gestamp. Hy wou net “Wynand” wees, sy Daleen, kort en klaar. Ek sê egter “prof. Mouton of prof. Wynand” en “mev. Mouton” nie om afstand te hou nie, maar om respek te betoon en omdat ek daarmee gemaklik is, het ek koppig volgehou. Hulle het my al protesterende laat begaan.
Oor prof. Mouton wil ek by sy dood Hamlet se woorde oor sy vader aanhaal: “We shall not look upon his like again”. Dis groot woorde, maar nie ydele woorde nie. So ‘n mens met soveel kwaliteite is inderdaad seldsaam.
Omdat hy so ‘n rustige, menslike mens was, iemand wat sag gepraat en geredelik geglimlag het, het sommige hom tot hul eie skade of verlies onderskat. ‘n Bekende wat liewer naamloos moet bly, het hom een keer as ‘n “malvalekker” tipeer. Dit was ‘n dwase oordeelsfout, want binne daardie sagte uiterlike was keiharde staal: die staal van beginselvastheid, opregte geloof, verstandigheid en logiese denke.
Terwyl sovele mindere ligte uit hoofde van hul sogenaamde “wetenskaplikheid” Christelikheid bevraagteken, was die kinderlike geloof van hierdie begaafde kernfisikus – in sy later jare deur F.W. de Klerk met die hand uitgekies om Suid-Afrika se kern-arsenaal af te takel – altyd vir my ‘n openbaring. Ook in die kerk was hy, soos oral, ‘n steunpilaar.
Sy rotsvaste lojaliteit was ‘n kenmerk. Hy was skaars rektor van die Vrystaatse Universiteit toe die roepstem Matieland toe kom. Uit lojaliteit het hy nee dankie gesê. Daardie lojaliteit teenoor sy alma mater en ‘n nuwe geslag leiers het hy tot die einde behou – geen Reitzkamers-krisis of wat ookal kon dit skud nie.
In onstuimige tye het hy die voorsitterskap van die SAUK as ‘n tweede verantwoordelikheid aanvaar. Soos sy rektorskap vir die U.V. ‘n goue era was, was sy voorsitterskap dit vir die SAUK.
Ek dink graag aan hom as “kollega”, omdat sy eerste inkomste by Die Volksblad verdien is. Hy was naamlik as seun een van die kranigste koerantverkopers, en “Nantie se hoek” in Bloemfontein se middestad was by almal bekend.
Miskien is dit as koerantverkopertjie dat hierdie onpretensieuse mens sy nederigheid geleer het. Sal ek vergeet die dag met die ondertekening van die Verdrag van Nkomati in ‘n tent naby die Mosambiekse grens? Wagte wou my en prof. Mouton by die feesmaal voorkeer, maar hy was vasbeslote om by P.W. Botha en Samora Machel se tafel te kom ten einde, as aandenking, hul handtekeninge op die amptelike dokument te kry. Uiteindelik roep Botha ons toe, stel ons aan die Mosambiekse president voor as sy vriende, en help dat ons kry wat ons soek. Prof. Mouton was opgewonde soos ‘n seuntjie toe hy daardie twee handtekeninge kry.
Die Mouton-egpaar het volgens eie getuienis op hul oudag al hoe nader aan mekaar gegroei. As die een sterf, sou die ander nie lank daarna nie volg, het hulle mekaar belowe. Toe gebeur dit dalk vinniger as wat enigeen van hulle kon besef.
In mev. Mouton, wat op 27 April vanjaar oorlede is, het ek altyd die kwaliteite van ‘n geëerde queen mother waargeneem en ge-admireer – ‘n Engelse term wat ek doelbewus gebruik omdat dit dalk net daardie iets meer sê as die Afrikaanse “koninginmoeder”. Daarmee bedoel ek nie dat sy ‘n “stywe” mens was nie. Allermins, Almal sal egter saamstem dat sy op haar persoon eksie-perfeksie was met geen haartjie uit sy plek nie. Daarby het sy perfek daarin geslaag om rondom haar ‘n deftige omgewing te skep wat egte vorstelikheid weerspieël.
Vir swierigheid, oppervlakkige glinster of pronkerigheid sou jy by haar en in haar huis vergeefs soek. Sy was smaakvol in die eg-klassieke styl en haar keurige aanslag was altyd vir my tekenend van ‘n diepgewortelde aristokrasie. Sy het die kuns geken om elke skildery, elke kunstige ornament, elke meubelstuk presies so te plaas dat dit in treffende harmonie ineenvloei. Die resultaat was ‘n onopgesmukte, huislike atmosfeer wat ‘n ware Renaissance-gees adem.
Hul laaste blyplek was ‘n pragwoonstel in Kusweg, Strand, met ‘n manjifieke see-uitsig. In ‘n spesiale hoekie had elkeen sy/haar eie stoel. Ek kan my nie daardie hoekie voorstel sonder hierdie twee wellewende, gulhartige mense nie. Trouens: hul afsterwe skep ‘n leegheid wat in die harte van hul wye vriendekring veel dieper strek as net daardie huislike hoekie hoog-op in die Metropole Plaza. (HvD)
