Leeus het ‘n vlakvark platgetrek. Hulle lê reg voor die piekniekplek op die klipplaat oorkant die Sabierivier en vreet. Regs is vyf olifante in die rivier. Hierdie sms van Leonora Mouton is genoeg om die mond op Melkbos te laat water. Enkele dae tevore was daar ‘n oproep van Gerhard de Bruin – ook oor leeus by die piekniekplek. Terwyl die Sabieparkers nog so oor die rivier tuur, daag ‘n wyfie duskant uit die bloute op, teenaan ‘n gemesselde tafel waarop mans met hul verkykers staan. “Moet ek hardloop?” pers ‘n nuwe intrekker dit toe benoud deur dun lippe.
Ai, dis nog net vyf slapies, dan bestyg die Van Deventers Kulula op die eerste skof van die wintervakansie. Die tweeling, Jacob en Thomas, nou ook al n kordate vier, tel ewe geesdrigtig die ure om tot hul derde Sabiepark-avontuur. Amper elke oggend word Melkbos toe gebel om nota’s te vergelyk. Gister was Thomas se boodskap kort en kragtig: hy het die malariapil “sommer heel ingesluk.” Klem op die sluk. Die muskiet, deel hy mee, “gaan net sê bzzz en weg is hy!”
“Hou vas die leeus, ons kom,” laat weet Tokkie vir Leonora, en in my snorbaard brom ek oor die liewe Nationwide se dinge wat ‘n paar waardevolle uur (en meer as R5 000 vir verlore kaartjies!) uit ons vakansie gehap het. Ons vlieg nou Woensdag na O.R. Tambo en moet dan die N4 met ‘n gehuurde CityGolfie (let wel, Cindy Nell!) aandurf Nelspruit toe waar die ou Honda CR-V staan en wag. Maar ons kom, ons kom – hou vas die leeus … en die olifante, en al die ander diere!
Elke jaar voor ‘n Sabiepark-vakansie blaai jy deur ou foto-albums en wonder: kan ons weer sulke wonderlike dinge beleef? In Maart-April was hoogtepunte soos ‘n luiperd by ons swembadjie (terwyl HvD, arme drommel, en sy Canon hulle elders bevind!), vier hiënas om middernag al plassende in ons watergat, twee witrenosters saam by die piekniekplek en buffels, buffels, baie buffels by die Nyamundwadam naby die Phabenihoek.
Onder die bagasie wat Woensdag saamvlieg, is juis ‘n paar geraamde foto’s vir die reeds oorvol mure – een van die buitengewone buffel-stormloop by Nyamundwa. In die grootste raam – waar gaan hy tog hang? – is net olifante. Laat ek dit nou maar self sê: dis nie sommer sulke elkedagse ou hierjy-olifant-fototjies nie!
Verder terug in die album is die vorige Julievakansie toe die tweeling ook twee weke saam met Oupa en Ouma in die bos was. “Ster van die Vakansie” was toe ongetwyfeld die olifantbul Langtand met sy tamaaie Mafunyane-agtige tande – so naby aan piekniekmakers dat jy die slaap in sy oë kon sien.
Nader was ‘n Grootvoet nog nooit aan die Van Deventers nie. En het Langtand hom nie die attensies van die Sabieparkers met hul flitsende kameras laat welgeval nie! Hy’t amper elke dag na sy persoonlike drinkgat aangewaggel gekom en dan ewe aanstellerig diekant, dan daaikant toe sy groot lyf vir die fotograwe gedraai.
Die episodes met Langtand het die kroon gespan op die vrugbaarste Sabiepark-vakansie aan die olifantfront sedert 1998 – in die Van Deventer-annale as die “Jaar van die Olifant” gedoop. En natuurlik staan Langtand nou sy plek breed vol in die nuwe olifantraam.
Die foto hierbo, ook in ons olifantraam, is een Sondag na kerk geneem toe ons en Dawie en Annatjie Strydom op pad huis toe was . Op die S3-rivierpad draf twee olifante vinnig voor ons verby. Langtand se handelsmerk verraai dadelik sy identiteit. Ek hou stil. Gelukkig. Die volgende oomblik begin die twee mekaar stamp-stamp. Hulle kry mekaar in ‘n kopklem beet en die slurpe knoop soos koeksisters.
Maar ‘n vakansie in Sabiepark (en die Wildtuin) bestaan nie net uit olifante nie. Van die hoogwaterbrug oor die Sabierivier op die Onder-Sabiepad het ons in Julie ‘n spannende leeujag dopgehou. Dit was onsuksesvol. Maar die operasie was nogal iets om te aanskou. By die Nyamundwadam het ‘n luiperd oop en bloot om die dam geloop (‘n halfmaan van ‘n goeie 200 meter) agter ‘n troppie rooibokkies aan.
By Lake Panic het twee seekoeie stomend en proesend vlakvoor ons gepaar. Op die Phabenipad was vier cheetahs onder ‘n boom. Ons het twee keer swartwitpense en drie keer njalas raakgeloop. Renosters was volop.
Tuis, was kameelperde een oggend so na aan die huis dat jy feitlik uit die kombuisvensters aan hulle kon vat. ‘n Stewige trop rooibokkies het tot teenaan die heining van die voorste lapa kom wei. Ander het uit die watergat gedrink. Vier loeries was saam in die rooiboswilg by die watergat.
Die eerste Saterdag in Julie het ons jaarvergadering gehou met vier leeus wat op en af marsjeer oorkant die rivier – heel opwindend. Later moes ‘n trop sebras ‘n ent hoër op teen die rivier voor die vier laat spaander.
Koedoes – tot 10 op ‘n slag – het periodieke besoeke aan die voëls se pitjies gebring. Die bosnagaap het weer sy verskyning gemaak, gelukkig betyds vir Jacob en Thomas om ook met die gulsige meneer met die spoggerige stert kennis te maak.
‘n Bobbejaan het by ons kamerdeur ingestap (dit fluister ek maar saggies!) en by die eetkamerdeur uit, met (genadiglik!) min skade en/of gemors. ‘n Opgekrulde swart slangtejie teen die skuifdeur van die gastekamer het Esther le Roux van Mosselbaai vinnig laat retireer.
Ek vra weer: is dit hoegenaamd moontlik dat ons hierdie vakansie weer soveel kan beleef? Maak ook nie eintlik saak nie. Elke aand se kampvuur is eintlik oorgenoeg om die hart te laat spin. Wat te meer wanneer jy as bonus dan olifante by die rivier hoor trompetter, seekoeie hoor snork, leeus by hul vangs hoor brul, naguiltjies hul soet aandgesange hoor aanhef … en as die getroue nagapies in n eindelose stroom kom piesang soek!
Kan ‘n doodgewone Van Deventertjie só onverdiend en só eindeloos bederf word? (HvD)
Volgende webjoernaal: Die volgende bydrae op HvD se blog sal eers oor sowat ‘n week uit Sabiepark wees.
Foto’s: Vir foto’s van vorige bosvakansies, klik eers op www.picasaweb.google.com/hennievandeventer. Klik vervolgens op die album van u keuse. AANBEVEEL: Albums 11 en 22, By die piekniekplek, Albums 14 en 21: Sabiepark en Albums 10 en 15: Wildtuin