Was dit Joseph Crookes wat gesing het van die “Perfect day”? Op Volkies in die jare 50 was die lied een van die immergroen-gunstelinge op plate-aande (waarvoor ons, terloops, nie baie lief was nie omdat die skoolsaal se deurborende ligte die hele aand bly brand het!)

Wel, die tweede dag van ons wintervakansie van 2008 kwalifiseer vir die “perfek”-etiket. Heerlike sonskyndag. Vleis op die kole. Koue wyn in die hand. Op die oewer van die Sabie mik ‘n trop leeus in die rigting van ‘n gespanne klomp rooibokkies. Uit die bos aan die duskant kom eers een olifant, toe ‘n tweede en daarna ‘n derde. Hulle stap stadig, afgemete deur die water.

Hou vir ons die leeus en olifante. Dit was die wens waarmee ons Woensdag uit Melkbos weg is. Dat die wens op so ‘n salige wyse vervul sou word, kon ons kwalik dink.

Op die foto hierbo is een van die twee kraagmanne in die trop. Hy was effe hinkepink weens ‘n seer voet. Maar toe dis stormloop kom, was hy pure leeu. Daar was ook twee wyfies en drie groterige welpies. Hulle is in tipiese jag-formasie voor ons verby, dan voor die bosse, dan agter. Maar die rooibokkies is nie aan die slaap gevang nie. Toe hulle vervaard begin spaander, was dit met ‘n vaart wat die jagters totaal onverwags betrap het.

Die leeus moes daardie aand honger gaan slaap het… anders as die Van Deventers en Van Rensburgs wat hulle trommeldik kon eet terwyl hulle hier op die drumpel van die Kruger-wildtuin ‘n hond uit die bos kuier.

By ons eie boshuis, Tarlehoet, was die wildverkeer tot Saterdagoggend traag. Toe kom die kameelperde, sebras, koedoes, blouwildebeeste, rooibokkies en twee duikertjies kort op mekaar se hakke. Saans is die nagapies baie bedrywig. Die bosnagaap bly tot die tweeling Jacob en Thomas se teleurstelling nog weg. Oupa en Ouma – hulle ken mos al die antwoorde! – moet net verduidelik. Ook oor die bejaarde duikertjie-oupa Witnek se volgehoue afwesigheid word verklarings geverg.

Die tweetjies geniet Sabiepark meer as ooit tevore. Op ‘n kordate vier is hulle net soveel onafhankliker as voorheen … en waagmoediger. Hulle is saans stokflou van al die boomklimmery en ander vreemde bos-aktiwiteite. Wat vir hulle die lekkerste is? “Om buite te speel.” Komende van Kaapse kindertjies is dit seker 100 persent verstaanbaar.

Die reis hierheen – per Kulula na O.R. Tambo en van daar per Citigolf van Imperial na Nelspruit – was, om dit sag te stel, taamlik veeleisend. Die halfvier-opstaan in ‘n triestige Kaap was niks. Die teruggee van die Golfie was egter ‘n logistieke uitdaging van formaat. My raad aan toekomstige Imperial-klante sou wees: kry ‘n goeie kaart van Mpumalanga se hoofstad en bestudeer dit goed voordat julle daardie ou takie aandurf. Moet ook nie probeer om die Promenade Hotel deur die naasliggende parkeerterrein te benader as jy ‘n ongeduldige mens met ‘n kort lont is nie!

Die slegte nuus uit die “Paradys” is dat die beheer oor die getal dagbesoekers aan die Wildtuin nou al tot op weeksdae in skoolvakansies erge komplikasies oplewer. Die vakansiegangers kom in strome uit alle windrigtings. Om vanoggend betyds by die kerk in Skukuza te kom, was self geen geringe uitdaging nie. More wil ons via die Krugerhek en Phabeni Hazyview toe ry. Glo dit of nie, maar ons weet nie of ons by Kruger deur die naald se oog gaan kom nie … en dit op ‘n Maandagoggend!

In Sabiepark het ons gister weer jaarvergadering gehou – in ‘n elegante markeetent met ‘n ontwerp wat aan die Olimpiese stadion in Munchen herinner. Die groot rusie – waaruit ek my natuurlik nie kon hou nie! – was oor ‘n ryk Kaapse slagter, ‘n Italianer, wat opsluit wil Eskomkrag laat aanle. Hy’t selfs ‘n prokureur uit die Kaap ingevlieg om sy saak te kom stel. Ek dink hy kan maar “traai, die wiend waai wes!” (HvD)

Deel dit: