Uit die boshuis van Fickie en Andre Visagie in Sabiepark kom altyd ‘n nuwe storie. Laas was dit die ene oor die luiperd op hul stoep. Die jongste is oor die nagapie wat drie dae in hul Honda Jazz deurgebring het.
Die eerste tekens van die ongewone “duimryer” was sy vinger-afdrukke aan die binnekant van ‘n ruit. Die identifikasie was nie moeilik nie. Maar waar sou die knapie hom dan bevind?
Die volgende teken was ‘n fyn stukkie mis – die teken dat hy net op een plek gesoek moet word en dit is binne die Honda. Die vraag was steeds: presies waar? Eers die derde dag, na meer as een besoek aan die Wildtuin, is daardie geheim opgeklaar toe Fickie ‘n krulstertjie agter die stuurwiel sien uitloer.
Die verstekeling – nie verniet nie Jazz gedoop – het hom maar te dankbaar laat red, en gretig die piesang wat hom aangebied is sommer uit die hand van sy weldoener verslind!
‘n Tweede Sabieparkstorie van die wintervakansie van 2008 kom van Dawie Strydom wat deur die jare ook al vele vreemdhede in die bos belewe het, en onder meer bekend is vir sy kloeke daad om ‘n duiker-lammetjie uit die kloue van ‘n luislang te red. Hy het eenvoudig ‘n stok in die oopgesperde slang-kake ingedwing en die bibberende bokkie bevry.
Hierdie keer was Dawie en Annatjie egter magtelose toeskouers toe ‘n trop bobbejane ‘n duikertjie verby sy huis, Rustig, jaag. Aan die einde van die wedloop was daar ‘n reeks onaardse geluide . Dawie is oortuig dit beteken net een bloedstollende ding: die duikertjie is deur die bobbejane vasgekeer en verskeur.
Philip en Nancè van Rensburg had op hul beurt moeite met ‘n bosnagaap wat te tuis geraak het. Die ou, herkenbaar weens ‘n mank been, is later Elvis gedoop omdat hy hom klaarblyklik verbeel het hy is koning op die werf. As hy nie tevrede was dat genoeg piesang vir hom uitgesit is nie, is hy spens toe om self te gaan snuffel. ‘n Keer was hy pens en pootjies op die vrieskas.
Uit die Van Deventer-huishouding is die onthoubaarste ontmoeting met ‘n burger van die bos tot dusver hierdie vakansie ‘n amperse insident met ‘n hiëna by die waskamer. Tokkie is vroeg daarheen met ‘n fris bondel wasgoed. Sy gaan haal die sleutel by die hek en gewaar skielik ‘n hiëna nader draf – te naby vir gemoedsrus.
Tsk-tsk, sis sy vir hom. Toe tsk-tsk hy vinnig tot groot vermaak van Thomas die hekwag.
Die afgehaalde hiëna swenk toe maar weg kantoorgebou se kant toe. Maar daar loop hy hom vas teen ‘n kameelperd wat nie lus is om onsin van kabouters te duld nie. Die ou langnek kap-kap met sy groot poot gevaarlik in die rigting van die kop van die indringer, wat daarna met ‘n skynbaar nog skuinser rug bedremmeld wegslenter.
By Tarlehoet bestaan belowende tekens dat ‘n opvolger vir Witnek die duiker na vore kom. Sy besoeke tel op. Die bosnagaap het weer opgedaag; niks fout met sy eetlus nie. Die rooi vlerke van ‘n bloukuifloerie is vlugtig in die bome op ons werf gewaar. Sebras, koedoes en blouwildebeeste maak gereeld ‘n draai.
Weens die dorre somer word Sabiepark se diere gevoer. Mooi sebrafoto’s verg as gevolg daarvan min inspanning! (HvD)