By Sabiepark se piekniekplek kan ‘n mens weer asemhaal. Die skole het begin. Die massas het gewyk. Net toe die menseverkeer afneem, het die diereverkeer ‘n hoogtepunt bereik.

Gisteroggend was daar leeus, met spelerige welpies wat heen en weer oor die rotse klouter, nege olifantbulle teenaan die uitkykdek, kameelperde, koedoes, impalas en ‘n vlakvark. ‘n Fees van diere soos ‘n mens min saam sien – wat verskeidenheid betref, van die mooiste tonele nog by die piekniekplek.

Die toeskouers was beperk tot Kapous en Leonora Mouton, hul twee gaste, die Steenkamps, en die Weilands, Anne en Ria. Die name van die die Van Deventers asook die Claassense, Brent, Marisa, Jacob en Thomas ontbreek.

Hoekom? Nie omdat die “bostelegraaf” skielik “van lyn af” geraak het nie, maar omdat die uwe se selfoon ongelukkig “aanlyn” was. Toe die oproep kom om alles te los en piekniekplek toe te haas, was my Nokia besig om e-pos-verkeer te hanteer.

Toe hoor ons maar later by ‘n opgewonde Kapous van die oggend der oggende. Moet erken: dit was nie sonder ‘n element van jaloesie nie …en van frustrasie oor ‘n verlore geleentheid weens niks meer nie as die spreekwoordelike kinkel in die kabel.

Om te huil oor verlore geleenthede is menslik – maar dit kan ook tot skade vir jou eie gemoed oordryf word. Om die geleenthede raak te sien en te waardeer wat na jou kant toe gekom het, is veel sinryker. Wel, daarvan was daar darem ook ‘n paar.

Sondagoggend na kerk kry ons ‘n stewige olifanttroppie buite die Krugerhek. Hulle storm voor ons oor die straat tussen die motors en die menigte flisende kameras deur. Een gaan poseer voor die granietbeeld van Oom Paul Kruger, die visioenere stigter van die KNP (foto hierby). ‘n Ander kry ek(ongelukkig met ‘n blertsie van my voertuig se voorruit) saam met die bord wat besoekers aan die Wildtuin verwelkom. ‘n Welkom in die Wildtuin met ‘n verskil!

Dieselfde middag kiek ek my eerste luiperd by die piekniekplek – trots op ‘n rots. Dit is self nie te versmaai nie.

Gisteraand het twee hienas hier by ons opgedaag net toe die tweeling, Jacob en Thomas, bed toe gaan. Die twee is betyds uit die vere geruk om die twee sluipers neffens die watergat grootoog gade te slaan. Hopelik help die eerstehandse ervaring om Oupa en Ouma se waarskuwings te laat insink dat die bos bedrieglik is. Een oombliki is alles nog rustig en vreedsaam. Die volgende oomblik is die gevaar op jou!

Die bosnagaap het nou ontdek agter die huis word ook vir die kleiner variasie gedek. As laasgenoemde nie honger wil gaan slaap nie, moet hulle wikkel. Dis dieselle storie van geleenthede en verlore geleenthede …. (HvD)

Deel dit: