Kyk, as ek dan vasgekeer moet raak, sou my voorkeur van plek wees een van daardie glaskaste wat veral by duur hotels in eksotiese vakansie-omgewings as buite-hysbakke dien – verkieslik een met ‘n panoramiese uitsig oor ‘n diepblou oseaan waarop die golwe ry op ry aangerol kom. ‘n Bonus sou wees om die petalje te beleef in geselskap van aanvallige nooientjies in vrolike strandddrag wat in die benarde omstandighede vir bemoediging van die vaderlike gryskop-oom afhanklik is.

As ek nie die weelde van ‘n keuse gebied sou word nie, en ek maar moet aanvaar ons praat van inkerkering in ‘n toilet, sou my keuse val op een van daardie vyfstermodelle met strelende Mozart-musiek teen net die regte desibels, vars bergies ys in die krippe, allerlei handdoekies, snesies en pommades oral en ‘n tros knoppies en pedale wat verskillende funksies in werking stel; ‘n omgewing wat meditasie bevorder.

Die toilet by Sabiepark se -kamer is nie in daardie uitgelese geselskap nie. Dis dienlik en skoon, maar basies, met ruimte ekonomies benut. Dis toe die nimlike plek waar hierdie arme drommel hom skielik in ‘n tronk bevind met ‘n deurknoppie wat al in die ronde tol en redding ver vandaan.

Rede tot ekstra ongemak is dat die insident hom afspeel terwyl die Springbokke en die All Blacks in ‘n titaniese stryd gewikkel is in ‘n maak-of-breek-toets op Carisbrook, die sogenaamde “house of pain” in Dunedin waar die draers van die silwervaring as’ t ware onoorwinlik is, maar waar later die dag ‘n roemryke Springbok-sege aangeteken sou word.

Maar ek loop die storie vooruit.

Toe die omvang van my penarie insink, uiter ek ‘n hoopvolle dog benoude joe-hoe. ‘n Bekende stem joe-hoe terug. Ek bemerk egter die onmiskenbare klank van ongeduld. Die tweede helfte moet begin en die vriend wil gaan rugby kyk!

‘n Ruk lank sak stilte toe. Toe kom die voorposte van ‘n reddingspan met ‘n skroewedraaier. Dit werk nie. My raad om ‘n byl te gaan haal en die duur oop te kap, word egter ferm van die hand gewys.

Bring dan ‘n leer gebied ek. My plan is dat ek die leer benut om tot bo-op die skermmuur te klouter. Dan hys ek die leer op en laat sak dit aan die ander kant vir die tog af ondertoe. Toe die leer egter veilig by my is, heroorweeg ek die proposisie. Die besef dring deur dat so ‘n akrobatiese poging dalk vyf jaar gelede ‘n opsie sou gewees het, beslis nie nou meer nie.

Ek opper weer die “bree-die-deur-oop”-moontlikheid. Gerrie van Niekerk, bestuurder van Sabiepark, is teen die tyd persoonlik op die toneel en maan egter tot kalmte. Sy plan is om die skarniere se pennetjies uit te kap.

Daarvoor is ‘n hamer en ‘n lang spyker nodig. Twee helpers word afgevaardig om die nodige te gaan haal. Intussen stap die horlosie aan … ook op Carisbrook.

Uiteindelik verskyn hulp in die vorm van die arbeider Alfred se vriendelike gesig oor die muur. My Samaritaan klim oor (soos ek wou uitklim) en begin kap, kap, kap – eers die onderste, toe die boonste skarnier.

Toe ek die TV-kamer instap, het die nuus al wyd versprei wat die rede vir my vertraagde verskyning is. Simpatieke applous klink op. Vyf en twintig minute bly oor, se die kommentator Hugh Bladen op daardie oomblik. Gelukkig is ek dus betyds vir Ricky Januarie se droomdrie.

Met al die gejuig en so bedaar my ergernis en verleentheid vinnig. Al wat oorbly, is die voorneme om nooit weer in rustyd van ‘n kritieke rugbywedstryd ‘n toiletdeur te sluit nie!

Naskrif: Die foto hierbo het met die toilet-sage natuurlik niks uit te waai nie. Dis van ‘n jong leeu en ‘n bokkie in ‘n spannende oomblik van kos of nie kos nie vir eersgenoemde en lewe of dood vir laasgenoemde. Die foto is by Sabiepark se piekniek geneem deur Marisa Claassens, my dogter en ma van die tweeling. Jacob en Thomas. Die bokkie – so rapporteer ek graag – het uit daardie leeu se kloue gebly. Hy het hom nie laat vaskeer nie! (HvD)

Deel dit: