Vir Lake Panic – my “Meer van die Drie Raaisels” (blaai net effe terug) – het ek ‘n nuwe naam: Lake Magic – Meer van Betowering. Die “drie raaisels” het nou “vier vreugdes” geword. Soos die onbekende outeur wat sy verwondering op die toonbankie van die voelskuiling by Skukuza uitgekrap het, kan die Van D’s ook nou ingenome verklaar: wat ons hier gesien het, oortref verbeelding.

Twaalf-stuks olifante, waaronder vier kleintjies, twee sierlike njalabulle, ‘n proesende seekoei onder ons voete en ‘n krokodil wat al om die skuiling swem, het vir twee sublieme ure langs die water gesorg. Moenie die gewone verskeidenheid watervoëls en en bosbokkies versmaai nie. Soos altyd het hulle die teenwoordiges se kanonlense oortyd laat werk.

Dawie Strydom, Wildtuin-veteraan van baie winters, was saam. Sy kommentaar was kort en kragtig: “’Die hoogtepunt van al my besoeke.” Ja, Dawie, dit was bepaald ook in die Van D’s se boekie van die wonderlikste van wonderlike Wildtuin-momente oor ‘n tydperk van drie dekades of langer.

Die aksie is ingelui toe die olifante soos skimme uit die bos kom en onverstoord op die eilandjie voor ons kom wei – naby genoeg om elke brekende takkie te hoor en elke ou grote haarfyn van slurp tot stertjie te bestudeer, selfs die wimpers. ‘n Broeipaar groenrugreiers, waterdikkoppe en kiewiete moes verontwaardig skarrel. ‘n Stuk van die reiers se nes het voor ons verby gedryf.

Later was dit tyd vir waterpret, met gevorderde swemlesse as deel van die kurrikulum. Die moeders kies koers oorkantste wal toe en die kleintjies moet eenvoudig agterna, hul slurpies soekende na die troos van moeder-nabyheid en uiteindelik met net die tippies soos snorkeltjies bo die water. Asem is opgehou elke keer as ‘n kleintjie pens en pootjies onder die water verdwyn. Die verligting was groot as die klein nat lyfie – soms met die hulp van ‘n flukse tiener – heelhuids anderkant vaste aarde bereik.

Jong olifante wat sonder ouerlike of gesinsverantwoordelikheid die oortog kon aandurf, het hul eie onvergeetlike bydrae tot die uitsonderlike skouspel gelewer deur heerlik, sonder inhibisies, voor ons te plas en te speel. Wonder wie die spelery die meeste geniet het: hulle of ons!

Die twee sierlike njalabulle het lank kom drink en wei, met hul horings in die modder gegrawe en selfs in ‘n stadium ‘n ligte misverstandjie met klappende horings besleg – alles oop en bloot, sonder kenmerkende beskroomdheid. Die opgewonde kamerabrigade kon net bly kliek en kliek.

Van die seekoei onder ons voete was ons die hele tyd bewus. Die patrone op sy skurwe vel is deur die skrefies tussen die vloerplanke bestudeer. Die werkinge van sy spysverteringstelsel het nie net vir geluide gesorg nie! Net toe ons reken die oggend se aksie is oor, kry hy die bevlieging om uit sy skuiling te kom. Dit doen hy al blasende. Dit dawer en dreun. Die water spat in boë. Nabyfoto’s van seekoeie het na die vertoning vir my ‘n ander betekenis as tevore.

Die krokodil in die water het in die lig van al bogenoemde minder impak gemaak. Hy was ‘n stil krokodil! Van die Japanse nooientjie langs my in die skuiling het die knoetsige lyf in die water egter haar eerste kommentaar so tussen die fotonemery deur uitgelok. “Croc, croc, croc!” het sy hard uitgeroep en haar lens amper in my oog gedruk soos sy dit met mening na sy kant toe swaai.

‘n Wildtuinrit Onder-Sabie se kant toe het enorm baie seekoeie, impalas en sebras opgelewer – soos in die “goeie ou dae”. Die ononderbroke tou sebras was twee, drie kilometer lank. Ons net ook twee swartrenosters (ongetwyfeld) en ‘n vaalribbok-ma en –baba raakgeloop – albei eerstes.

By Sabiepark se piekniekplek is dit steeds ‘n fees van wild, met leeus, olifante, seekoeie, kameelperde, koedoes, sebras, blouwildebeeste en hope impalas wat kom en gaan. Soveel spesies op een dag het ons nie voorheen daar gesien nie.

Die inwonde leeutrop lei die arme rooibokkies ‘n lewe. Hulle kom in groot spanning af water toe en laat spaander telkens verskrik voor die leeugevaar. Die jongste vangs was egter nie ‘n impala nie, wel ‘n gryse ou buffel met ‘n mank been. Die vangs was agter die riete. Ons moes omry S3 toe om die feesmaal van die leeus waar te neem. Dit was die tweede keer in derttig jaar dat ek sien hoe welpies tot binne ‘n buffelkarkas klim agter die beste vleis aan.

By ons boshuis,Tarlehoet, het die verskyning van die eerste groen pendoringboomblaartjies die kameelperde vinnig laat toeslaan. Eers het die ou bul alleen gekom en hom trommeldik ge-eet. Die volgende oggend toe ons opstaan, was drie volstoom aan die kou. Later het dieselfde drie weer ‘n draai gemaak en die baba saamgebring. Die takke is kaal gestroop soos deur ‘n dorsmasjien, Maar die foto’s! Een ou stap feitlik binne-in my lens in.

Uit die Wildtuin (en Sabiepark), soos uit Afrika, kom maar altyd iets nuuts. Wonderlik! (HvD)

Deel dit: