Kyk, seekoeie ken die kuns om lui te lyk. Tienstuks van die luiste lui lummels in ‘n kuil naby Onder-Sabie het die inspirasie vir die volgende Wildtuin-versie verskaf:

Een oefen kliphard

Om wydbek te gaap,
Die ander lê heeldag
In die water en slaap;
Waaraan ly darie
Luie donders?
Wrintiewaar…..
Dis hippo-konders!

Sabiepark se hienas word oor naweke en in vakansies gruwelik deur onnadenkendes met “beentjies” en allerlei ander happies van hul vleisbraaivure af verwen. Wanneer daardie onverantwoordelike garde oppak, sit ons ander arme drommels met die oorlas van gulsige diere wat vroeg-vroeg hoopvol om ons huise begin sluip en snuffel vir ‘n oorskietkossie.

Na sovele sulke onwelkome besoeke het ek my frustrasie met die “beentjie”-bederwers se aktiwiteite soos volg verwoord:

Hope bedorwe, honger diere
Sluip van vroeg af om die vure;
Waar is tog nou die “beentjies”
Van die naweek-spyseniere?

Oor die jare het ek ‘n vrag versies oor diere en hul maniere geskep – meesal sommer as ‘n vorm van tuisvermaak net vir eie konsumspie en plesier, soos die twee hierbo. Vir die tweeling-kleinkinders, Jacob en Thomas (nou vier), het ek ‘n jaar of wat gelede ‘n bos-bundeltjie saamgestel met foto’s van ‘n verskeidenheid wilde diere en ‘n versie oor elkeen. Die titel is “Innibos saam met Oupa”.

By die Van Deventer se huis in Sabiepark is twee van die gewildste gereelde besoekers die nagapies en die duikertjies. Natuurlik is hulle ook van die kinders se groot gunstelinge. Oupa moes eenvoudig oor albei versies maak.

By die foto van ‘n oulike nagapie in die gewone pendoringboom voor ons huis waar die tafel elke aand vir die ratse nagdiertjies met piesangskyfies gedek word, lui die versie:

Die nagapies dink:
O jinne, ons droom –
Hier groei dan piesang
Aan ‘n pendoringboom!

En by ‘n foto van “ons duikertjie” by sy pitjies wat hy so klokslag soos ‘n Japanse sneltrein by die voëlbadjie kom soek:

‘n Hand vol pitjies
is soet soos suiker
vir ‘n lekkerbekkie
soos Witnek die duiker.

Diere wat drink, het vir groot en klein bekoring. Onder my “drink-versies” is een oor sebras, een oor kameelperde en een oor ‘n skilpad wat sy dors by ons watergat kom les.

By die foto van ‘n sebra-tjie wat stampend en stotend aan sy mamma staan en drink lui die versie:

Die honger klein sebra’tjie
Trek sy mamma ‘n streep,
Kry haar uier styf vas
In ‘n sjoe-einatjie-greep.

By die foto van ‘n kameelperd se komieklike kontorsies om die water by te kom:

Kameelperd buig sy lange nek,
Knak sy knieë, rek en strek,
Eers dan kan hy die water
Deur sy “strooitjie” optrek.

En by die foto van die skilpad by die watergat:

As jy dors raak, ou Skillie,
Hou tog goed kop
Drink dan behaaglik …
‘n Lang stywe dop

Bo is van nagapies en hul voorliefde vir piesang melding gemaak. Ook vir die veel groter bosnagaap is piesang ‘n vingerlek-lekkerny. Die nagapies weet skemertyd hulle moet roer. As die ou grote met sy wolstert later opdaag, verdwyn die oorblywende skyfies piesang in ‘n vinnige tempo. Ook oor hom is ‘n foto en ‘n versie in Oupa se “Innibos:-boekie:

Met sy bieliestert
Is bosnagaap
‘n Apie-meneer
Van ‘n ander kleur;
Voordat jy kan tel tot tien
Draf hy deur ‘n piesang
Soos ‘n dorsmasjien.

My enigste versebundeltjie wat op boekwinkels se rakke was, is “Polisie, Polisie, Ons Reënboog is Geroof” waarin oneerbiediglik gehekel word met alles onder die son: as ‘t ware van die politiek tot rumatiek. Ook daarin verskyn enkele diereversies.
Vir oulaas – en sommer net vir die pret, – die volgende vier:

Volstruis
Ou volstruis se hart is seer,
Hy hoor die boodskap keer op keer:
Stoffers is jul, en
Tot stoffers sal jul terugkeer!

Renoster
Oral in die Wildtuin lê hope renostermis,
Oral ry jy die hope renosters net mis.

Paddas
So waar as padda manel dra,
Elke liewe nag
in die ruskamp Letaba
hou ‘n magdom paddas
‘n reuse-padda-indaba.

Slang
‘n Groot krokodil dié maak my ril,
‘n Spinnekop trek my maag op ‘n knop,
Maar, mens, ek skrik my waarlik bevange
Vir al Mpumalange se gevaarlike slange.

Fluit-fluit, op daardie grillerige noot is hierdie versieblog uit! (HvD)

Deel dit: