HvD (links), Herman le Roux en sy vrou, Rina, saam in ons boshuis Tarlehoet se swembadjie in Maart 2008

Oor die redes vir verlede Saterdag se bloedneus op Nuweland is sedertdien lank en uitvoerig geredekawel. Hier aan die suidpunt van Afrika is ‘n geween en ‘n gekners van rugbytande soos lanklaas.

Twee van die insiggewendste bydraes wat ek oor die groot pak slae onder oë gehad het, kom van twee gerekende rugbyskrywers uit vorige eras, my oud-kollegas Herman le Roux en Frikkie van Rensburg. Niemand minder nie as Mnr. Rugby self, dr. Danie Craven, het hulle in die 80’s as die beste in die land uitgesonder.

Frikkie benader sy sienswyse uit ‘n statistiese hoek – hy is deesdae ‘n rugby-statiskus van faam daar in Bloemfontein. Herman noem weer die spul foute op wat begaan is. Sonder hul medewete gaps ek hul beskouings wat my per e-pos bereik het, vir hierdie rugbyblog. Volgende keer kom die bos weer in HvD se Blog aan die beurt.

Frikkie draai nie doekies om nie dat die All Blacks die Springbokke deesdae oor is en dat sommer baie hard gewerk sal moet word – sonder die inmenging van politici, iets wat ons maar op ons magies kan skryf en doodvee – om Suid-Afrikaanse rugby weer te kry waar dit teen die einde van 1998 was, VERAL t.o.v. die All Blacks.

Tóé het SA en NS met 24 seges elk, en met 3 gelykop-wedstryde, gelyk getrek, nadat SA tot ná die 1981-toer die botoon gevoer het. Die draers van die groen en goud het 20 van hul 37 toetse tussen 1921 en 1981 teen NS gewen. NS het in daardie stadium 15 gewen het en 2 was gelykop.

‘n Droewige verhaal teen die Kiwi’s het hom sedert SA se hertoelating in 1992 begin ontvou, maar ons kon aan die einde van 1998 darem steeds saamgesels – 24-24-3! SA was tóé die enigste land wat kón spog dat hy net soveel toetse as die gevreesde All Blacks kon wen.

Tussen 1937 en 1949 was SA in 6 agtereenvolgende toetse teen NS aan die wenkant. NS het weer tussen
2000 en 2004 in 8 opeenvolgende toetse koning gekraai.

Van 1992 af het NS onse Bokke erg gekarnuffel, en is ‘n oorwinning oor die draers van die silwervaring ‘n uitsondering – trouens ‘n GROOT SELDSAAMHEID! Van die laaste 38 toetse sedert 1992 het NS 27 gewen. Een was gelykop. Die heerlike Bok-sege onlangs op Carisbrook in Dunedin was slegs die 10de in dié 17 seisoene!

Frikkie meen die statistieke gee ‘n goeie idee waar presies SA hom ná die Nuweland-slag op 17/8/2008 in wêreldrugby bevind, ál is ons die huidige houer van die William Webb Ellis-beker, én al was die Aussies in 1999 die kampioen en die Engelse Rose in 2003.

Die statistieke wys dat Nieu-Seeland tussen 2000 en Saterdag se groot slag op Nuweland in presies 100 toetse gespeel het, waarvan hy 82 gewen het – ‘n 82%-suksessyfer.

Die vier ander top-spanne baklei maar om die tweede plek uit, én is ver agter: Tweede is Engeland (65.35% – 101 toetse gespeel); derde Australië (63.37% – 101 toetse gespeel); vierde Frankryk (61.90% – 105 toetse gespeel); vyfde SUID-AFRIKA (59.26 % – 108 toetse gespeel).

Die algehele prentjie lyk beter vir SA as alle toetse van die begin af in berekening gebring word. Dan is NS weer eerste met ‘n ewe indrukwekkende gemiddelde sukses-syfer van 74.14% in sy 437 toetse sedert 1903. Tweede is SUID-AFRIKA (63.19% – ná 364 toetse sedert sy eerste toets in 1891). Dan volg: 3. Frankryk (54.56% ná 636 toetse toetse sedert 1906); 4. Engeland (53.13% ná 608 toetse sedert 1871); 5. Australië (wat onlangs eers die 50%-kerf oorgesteek het – 50.31% ná 483 toetse sedert 1899).

NS is die enigste rugbyland wat ‘n positiewe rekord teen AL die ander lande het – maw meer toetse gewen as verloor.

Frikkie raai ons aan om maar ‘n glasie te klink op Nieu-Seeland se rugbytrots, die All Blacks. Volgens hom kan hy nie sien hoe enige van die top-spanne kan droom om in 2011 die William Webb Ellis-beker uit Auckland te kry nie.

As ‘n mens ‘n beste span uit die wenspanne van 1999 (Australië), Engeland (2003) en Suid-Afrika (2007) kón kies, sal só ‘n span dalk ná ‘n maand se oefenkamp die Nieu-Seelanders in 2011 in Kiwi-land na die kroon kan steek., meen hy.

Herman, ‘n voorganger van Frikkie as sportredakteur van Die Volksblad en later ook sportredakteur van Beeld, bedank in sy antwoord vir Frikkie vir sy “uiters deeglike statistiek” en beklemtoon dan veral die onnodige foute wat op Nuweland began is.

Wanneer ‘n mens die spelers se individuele vertonings bestudeer, dan blyk dit volgens hom dat die meeste een of meer onnodige foute begaan het wat die Bokke duur te staan gekom het. SA het gans te veel besit afgestaan. En dan wonder hy steeds hoe de d…. die All Blacks met of sonder die hulp van die skeidsregter die bal steel/uitgrawe wanneer dit lyk of die Bokke beheer het.

Hy gee die volgende opsomming vn die ergste foute:

ï‚• Daardie eerste afskop van Butch James.

 Percy Montgomery se swak skoppe pale toe (met ‘n nog korter aanloop as normaalweg). Naas Botha sê ‘n mens moet ‘n aanloop hê. Nie net een tree nie.

ï‚• Percy se wisselvallige skoppe na die grenslyn. (Kan hy nie maar langs die linkerkantse grenslyn die bal met die regtervoet twintig tree ver uitskop as met die linkervoet die bal laat inkrul in die opposisie se hande nie?

 Bryan Habana wat die bal uit sy hande laat val ná ‘n hoë skop.

 Adrian Jacobs wat man-alleen met ‘n gestoei die doellyn probeer haal, met ‘n paar manne links van hom in ‘n beter posisie.

ï‚• Fourie du Preez se regstreekse skop oor die grenslyn, net voordat hy afgehaal is.

 Twee, drie aangeë wat nie in die vleuel se hande beland het nie. Veral Butch James se aangee na Conrad Jantjes. Maar waarom kon Jantjes nie in posisie kom nie?

ï‚• Jean de Villiers se wilde aangee wat onderskep is. Moenie Francois Steyn blameer dat hy die diep ingooi gewaag het nie.

 Andries Bekker, wat ‘n bal wild na agter gooi, waar ons moet rondskarrel om te keer.

ï‚• Bekker se aanslaan in die lynstaan.

 Januarie se aanslaan agter die losskrum en Juan Smith wat dit in ‘n onkantposisie optel.

So kan ‘n mens aangaan en aangaan, sê Herman …. maar dit bly ‘n lekker “game”.

Daarmee stem ek van harte saam, en is dit nie nog lekkerder nie as ‘n mens agterna sulke kundige ontledings van kenners kan lees? Dankie daavoor, Frikkie en Herman, en jammer vir die eiereg wat ek gebruik het om dit op my blog te sit. (HvD)

Deel dit: