Soos ‘n toneel uit die Serengeti van my verbeelding (ek was nie self daar nie) was dit Dinsdagmiddag 19 Augustus skuins voor vyf toe ‘n trop van minstens 200 buffels en sowat 20 olifante by Sabiepark se piekniekplek saam die Sabierivier oorsteek.

‘n Arme kiewietpaar was radeloos toe eers die hoewe van die buffels en daarna die groot voete van die grootvoete hul nessie op ‘n sandbankie in die rivier fyn trap. Hul verslaenheid en dapper pogings tot weerstand het aan die hart geruk.

Die enkele gelukkiges wat verruk daardie natuurskouspel waargeneem het – die Van Deventers (ook ons seun, Johan, Mariza en Michael), Anne en Ria Weiland van die Rand, ‘n Oostenryker en sy dogtertjie op sy skouers en Solly Sibuyi, die piekniekterrein-opsigter – kon nie ophou foto’s neem en mekaar gelukwens met die grootsheid van hul gedeelde ervaring nie.

Toe ons opdaag, was die buffels swart spikkels in die uitgestrekte rietland aan die oorkant van die rivier voor die uitkykdek. Die olifante was versprei ten weste van ons aan ons kant van die rivier. Verbasend vinnig het eers die buffels en darna die olifante begin konsolideer.

Toe die voorhoede van die buffels die water binnegaan, was die olifante nog aan die duskant. Maar hulle is vinnig oor die rivier en op ‘n drafstappie voor ons verby. Die buffels was in daardie stadium in die naderende skemer al ‘n dik swart streep in die blou water.

Die groot verrassing was toe die olifante op die spoor van die buffels weer links swenk en ‘n tweede keer binne tien minute of so weer die water indons, die keer in die teenoorgestelde rigting as flussies – asof iets hulle dryf om by die buffels uit te kom.

Ons het nie lank gewag nie. Enkele oomblikke nadat die eerste ou grotes die rivier in is, was hulle kort op die buffels se hakke en nog oomblikke later het die voorstes die agterste buffels ingehaal en begin verbysteek.

In ‘n stadium was dit net buffels en olifante deiurmekaar – soos ek nog nooit beleef het nie. Die foto hierby slaag nie werklik om so alleenstaande die treffende toneel uit te beeld nie. As ek terug is in die Kaap – na 28 Augustus – sal ek ‘n spesiale Picasa-album oor daardie dramatiese Dinsdagmiddag op my webwerf, www.hennievandeventer.com plaas.

By dieselfde piekniekplek het ons die vakansie leeus, leeus en nogmaals leeus gesien – onder meer twee vangste (‘n rooibokkie en ‘n buffel), asook luiperds en renosters. Al vyf die Vyf Grotes het ons ingenome Sabieparkers met gereelde besoeke vereer.

Dar was soms ook pragtige dieretonele van ‘n verskeidenheid van ses, sewe, agt spesies saam kom water drink – iets wat ek ek laas in Etosha gesien het.

Ons glo ons piekniekplek en ons uitkykdek bied die beste wildbesigtiging langs die ganske Sabierivier. Iemand wat daardie aanspraak in twyfel wil trek, sal moet uithaal en wys. (HvD)

Deel dit: