FOTOBEELD
Belofte maak skuld. Die beloofde fotobeeld van die indrukwekkende oortog oor die Sabie van 200 of meer buffels en sowat 20 olifante is pas na die uwe se terugkeer op Melkbos by sy Picasa-albums gevoeg.
Ek het daardie wonderlike Woensdagmiddag, 20 Augustus, die Canon laat oortyd werk. Uiteindelik het ek op 15 foto’s besluit wat na my oordeel ‘n beeld gee van die buitengewone tonele wat ons klein groepie op Sabiepark se uitkykdek so opgewonde gemaak het – blaai terug na die voorlaaste HvD se Blog.
Die eerste foto is van die eerste buffels wat die eilandjie in die middel van die rivier bereik. Die volgende vier foto’s wys die opbou van die buffel-samedromming en die swart tou wat net eindeloos bly kom en kom.
Op foto ses steek die olifante die Sabie van duskant af oor en op foto sewe “groet” twee van die grootvoete mekaar net vir oulaas voordat hulle in die riete aan die oorkant verdwyn.
Foto’s agt en nege toon die agterhoed van die buffels in die water.
Dan begin die olifante – wat intussen ‘n wye U-draai gemaak het – hulle inhaal. Op foto tien is die gapinkie al klein. Op foto elf haal die voorste olifante die agterste buffels in en begin hulle verbysteek.
Daarna is dit net buffels en olifante en olifante en buffels totdat die eerste olifante die noordelike oewer van die Sabierivier bereik – daar waar Sabiepark se ou wandelpad was wat op daardie onheilsdag Maandag 7 Februarie 2000 deur ongekende vloedwaters platgevee is.
Hoop besoekers aan die blog beleef iets van die handjie vol toeskouers se tinteling in hul are as hulle die foto’s so deurkyk.
Ongelukkig was die lig nie meer 100 persent nie. Tussen 17:00 en 17:30 raak dit in Augustus nog vinnig skemer in die Laeveld.
Klik vir die fotobeeld net op die volgende skakel : http://picasaweb.google.com/hennievandeventer/Wintervakansie2008SerengetiAanDieSabie
Om die foto’s te vergroot, klik op die knoppie “Size” heel regs bo die foto-album. (HvD)
Naskrif: Die getal foto’s het intussen tot 17 gegroei. Ek het uit Johan van D. se foto’s twee bygevoeg: een van olifante in die rivier op pad oorkant toe en een van Mariza en Michael op die dek. Dit wys: ons was inderdaad in die voorste sitplekke!
