More uit Melkbos
Seun in hegtenis
In ’n skokkende wending is Martin Brits (28), seun van die vermoorde ds. Willem Brits (60), in hegtenis geneem weens die wrede aanval Donderdagaand in die pastorie.
Die pastoriemoorde op Harrsimith lewer vandag ‘n boeiende joernalistieke vergelyking op.
Die Burger berig ‘n “nabye familielid” is in hegtenis geneem.
Beeld berig “‘n seun” is vas oor die moorde op die leraar en sy aanstaande skoonseun en die wrede aanranding op sy vrou.
Volksblad noem die naam van die seun wat in hegtenis is. Die flits hierbo is geneem van Volksblad se webblad.
Dit is nie vreemd dat koerante in dieselfde stal nie altyd moeilike besluit eenders neem nie. Die Burger is geneig om die weg van versigtigheid in te slaan – hy loop die reguit pad as ‘t ware. Beeld verras my nogal vanoggend. Dis ‘n koerant wat nie huiwer om dapper besluite oor nuushantering te neem nie.
My ou koerant, Volksblad, is nou die land voor met die “scoop”. Geluk, julle almal. ‘n Oud-redakteur se bors swel van die trots.
Wat vir die waarnemer uit die verre Melkbos opval, is dat Volksblad ‘n nuwe redakteur het, die eerste vrou by A.J.R. van Ryn se lessenaar van Birmaanse kiaat – een waarby ek ook twaalf opwindende jare gesit het.
Ek is 15 jaar afgetree en sit ver van die vuur. Ek dink dat Johanna die regte besluit geneem het – ondanks moontlike reperkussies. Sy moes besef het die Sondagkoerante gaan more die krane oopdraai. Geen sin om op nuus te sit wat 24 uur later op ander voorblaaie geblaker gaan word nie. Sy moes ook die klimaat in die gemeente Kerkenberg en op daardie Oos-Vrystaats dorp aan die voet van die Platberg opgeweeg het: die opwelling van intense emosie en waarskynlik ook rou rassegevoelens. Die pastoriepaar en hul vier aangenome kinders is/was geliefde mense.
Hoe asembenemend die nuus op Harrsmith ontvang moet word, kan ‘n mens net raai. Kry daardie skok egter so gou as moontlik agter die rug. Dit is gesonder vir die hantering van die diepe kollektiewe trauma as skadelike bespiegeling en gerugte. Hoe ook al, Johanna, jy het gou in daardie warm stoel jou spore verdien!
‘n Aspek wat ook boei, is dat sowel die Harrismith-moorde as die Griekwastad-moorde in Volksblad se lesersgebied was. Die Griekwastad-gesinsdrama het enorme uitdagings aan Volksblad gestel. Hy het met eer uit daardie neerdrukkende oefening getree.
In hoe ‘n mate sy ervaring met Griekwastad se netelighede Volksblad se mense geslyp het om met Harrismith ferm raak te vat, is ‘n antwoord wat net uit Bloemfontein kan kom. Dat dit ‘n faktor moet gewees het wat daardie koerant weer in die joernalistieke resies voor geplaas het – ook voor sy twee groter en bekender susters – is egter onteenseglik, meen ek.
Kom ons haal almal ons hoede vir Johanna van Eeden en haar span af. (hvd)
NASKRIF:
My aandag is daarop gevestig dat Beeld in sy laaste uitgawes vanoggend wel ook die naam gepubliseer het van die seun wat weens die pastoriemoorde op Harrismith in hegtenis geneem is. Verheug my, want vir Beeld het ek ook ‘n sagte plekkie na al die sakke sout wat ek in die eerste ses jaar van sy bestaan saam met die ander Beeld-pioniers in Doornfontein opge-eet het.
Dalk het Die Burger ook die naam in sy stadsuitgawe. My vorige blog is egter geskryf op grond van die uitgawe van Die Burger wat ek op Melkbos voor my gehad het, en Beeld se webblad wat ek daarna, om 08:00, besoek het.
Saktye het seker ‘n rol gespeel – maar dit bly ‘n feit dat Volksblad voor sy groter susters die nuus op sy webblad gehad het. Webblaaie het na my tyd gekom,. maar dit sou my verras as Volksblad se webblad deur ‘n gunstiger saktyd bevoordeel sou gewees het.
As ek my kollegas by Beeld en Die Burger onverdiend te na gekom het, is ek jammer. Maar dit verdun nie my trots op Volksblad nie!