Die Kaap van Storms doen sy naam hierdie naweek met mening gestand.
Hierdie foto is vanmiddag (Sondag 30 Augustus) omstreeks 14:00 van ons stoep op Melkbos geneem. Die Atlantiese Oseaan is wild!
Vanoggend omstreeks 06:00 was die westerkim so dreigend swart dat my vrou, Tokkie, haar asvaal geskrik het. Dit het gelyk of die tropiese storm Gustav onstuitbaar in ons rigting koers gekies het.
Verlede nag het die noordwester gewaai soos ek dit nog nie in my Kaapse dekade beleef het nie. Die reen het in ondeurdringbare vlae neergegiet. Meedoenloos. Aanmekaar.
Alles wat kon kraak en rittel, het gekraak en gerittel vir die eerste span.
Ons is deur die vreesaanjaende nag en deur hierdie Sondag tot dusver sonder skade. Dit is stof tot dankbaarheid.
Hoogwater is omstreeks 16:00. Ons gaan die tweeling in die Honda boender en op ‘n verkenningsekspedisie Blouberg se kant toe ry. Sulke branders en sulke seeskuim sal hulle nie weer gou sien nie, glo ek.
En om te dink Donderdag was ons nog in die Bosveld! (HvD)
