Die see is in die straat. Of dit Jacob of Thomas was wat die toneel rondom ons so beskryf het, weet ek nie. Wie dit was, daardie beskrywing van die agterste sitplek van my Honda af was vol in die kol.
Ons het vanmiddag met hoogwater (omstreeks 16:00) ‘n entjie gaan ry om die tweeling die onstuimige stormsee te wys. So iets het hulle nog nie beleef nie. Groot opgewondenheid was aan die orde van die dag as ons telkens deur die water moes ploeg – hoe dieper des te beter.
Op Melkbos en Bloubergstrand was strate besaai met water, skuim, klippe en seewier. Waar normaalweg strand-grasperke en -plaveisel is, was een massa bibberende skuim. Strandbankies het skaars uitgesteek.
Op Blouberg, in die omgewing van die restaurant On the Rocks, het die see aaneen nuwe strome water en skuim in die straat en op motors uitgestort. Mense het begin om sandsakke voor hul motorhuise te pak om die water uit te hou.
Melkbos se Kusweg was ‘n klein Venesie – ‘n plek-plek dieperige waterweg waardeur motors stadig kruie. ‘n Stopstraat omring van water was nogal ‘n potsierlike gesig. Kusweg het ek nog net een keer tevore in ‘n dekade so gesien.
Nog foto’s verskyn in ‘n blitsalbumpie by die volgende skakel:
http://picasaweb.google.com/hennievandeventer/Stormsee30808
Klik op die knopie gemerk “Size” om die foto’s te vergroot.
Vir ‘n vollediger beeld van die Kaap van Storms se stormagtige laaste 24 uur en hoe die Van Deventers dit ervaar het, blaai terug na my vorige blog. (HvD)
