Maar, ma, ek wou
nog rem –
toe sien ek net,
ek moet nou swem!

Met hierdie variasie op ‘n vorige HvD-versie kon die baba-kameelperdjie op die foto hierbo wel sy lot bekla nadat hy op ‘n wildplaas by Hoedspruit pens en pootjies in ‘n (mense-)swembad beland het.

Kameelperd-ma’s is berug vir hul afsydige moederskap. Aapstert se ma het egter nie op haar laat wag nie. Voordat jy kon sê kreepy-krauly is sy gatoorkop agterna om haar bloedjie te beskerm.

Die kortgat-langnekkie is sonder te veel moeite deur personeel van die wildplaas gered. Maar toe sit die heldhaftige moeder se turf. Hoe gemaak met so ‘n lompe dier wat om die dood toe nie die eenvoudige kuns kon bemeester om die trappies te bestyg nie?

Mamma kameelperd het terug in die water bly gly en gly, en natuurlik al hoe meer paniekerig begin raak. In die proses is haar enkels beseer. Net een genade was oor – die water moes uitgepomp word. Nog later is ‘n berg grond aangery en in die gat gestort. So sou die angstige kameelperd as’ t ware uit die swembad kon “stap”. So het die span redders altans gedink.

Maar aikona – alles steeds vergeefs. Einde ten laaste het die uitgeputte dier op ‘n moedelose hopie op die swembad se bodem neergesyg – skynbaar klaar met kees.

Maar ‘n boer (ook ‘n wildboer) maak ‘n plan. Iemand kry die ingewing om ‘n sterk tou om haar lang nek te bewimpel. ‘n Trekker word ontbied en dié sleep haar al spokende met ‘n brullende enjin na bowe.

Albei avonturiers is vinnig ingespuit om te keer dat hulle verkoue kry. Onthou, hulle was darem ‘n hele rukkie in daardie koue water, en selfs doer in die warm noorde is ‘n swembad in die middel van die winter niemand se maat nie.

Gelukkig het ma en kind albei vinnig van hul beproewing herstel. Hulle is weer pure kameelperd. Dit lyk net of die twee deesdae wye draaie om daardie gevaarlike swembad loop!

Die storie kom van Retha Botes uit die Vrystaat en is een van verskeie dierestories per e-pos wat die uwe die laaste ruk versamel het om die kleinkinders mee te plesier.

Twee vlakvark-video’s het die seuntjies veral laat kraai. Op die een storm ‘n onverskrokke vlakvark tussen vyf jagluiperds in by ‘n watergat. Die jagluiperds vlug in volle vaart! Op die ander bly ‘n vlakvark ‘n knorrige leeuwyfie in die sy stamp totdat die koning van die diere ook maar besluit: liewer Bang Jan as Dooie Jan.

‘n Prettige video het in dieselfde tyd hier opgedaag van ‘n moedswillige olifantjie wat ‘n hans volstruis se nek met sy slurp vasgryp. Die groot voël spook en wriemel vir al wat hy werd is, maar olifant se kind slaan ysterklou in die grond.

‘n Video doen op die oomblik die ronde van ‘n olifant wat ‘n sokkerbal kan sool – so sekuur dat hy in 2010 vir Bafana Bafana ‘n wedstrydwenner sou kon wees. En, vergewe asseblief as dit politiek inkorrek is, maar het daardie arme drommels nie ‘n wedstrydwenner nodig nie!

Dankie aan almal wat vir die uwe sulke diereplesiere stuur. Stuur nog! Die kinders is mal daaroor. Hul oupa ook. (HvD)

Deel dit: