Danie die deurtrapte draaksteker lag van oor tot oor

Danie die deurtrapte draaksteker lag van oor tot oor

Van een Danie Krynauw (blaai aan tot by vorige blog) na ‘n ander ….

Op Melkbos waar die Van Deventers na aftrede kom wortels inslaan het, het ons vriende geword met die “ander“ Danie Krÿnauw van die Kaap – die Danie met die umlaut op die “y” wat burgemeester was van Milnerton in die 90’s van die vorige eeu.

“Ander” Danie onthou een oulike anekdote oor ‘n identiteitsvergissing toe die nuwe TrustBank-gebou in Adderleystraat met ‘n glansdinee geopen is. Jan S. Marais was die gasheer. Staatspresident Nico Diederichs was die spreker. Albei Danies was op die gastelys.

Die Danie met die umlaut en sy vrou, Esbé, het net hul sitplekke ingeneem toe iemand hom ferm op die skouer tik. Hy kyk op in die ernstige gesig van die Pers se Danie. “Jammer,” spreek daardie Danie hom aan, “maar julle sit op ons plekke.” Uiters verleë, staan Danie en Esbé toe vinnig op en mik koes-koes deur toe. Een van daardie aanvallige jong TrustBank-meisies van destyds sien egter wat gebeur, draf agterna en los die deurmekaarspul tjoef-tjaf op.

Burgemeester Danie het nooit daardie aand vergeet nie. Pleks dat ek Saterdag by sy 80ste my kollega Danie, latere uitvoerende hoof van tydskrifte by Naspers, gevra het of hy dit ook steeds onthou.

Oor Danie nommer een het ek in die vorige blog twee s-woorde gebruik: stylvol en sjarmant. Danie nommer twee is eweneens ‘n s-man. Jy sou hom kan beskryf as ‘n man vir stories (soms stouterig), vir strepe trek, vir skryf en vir skerts.

Nou moet ek dadelik meld dat my drarekenaar ‘n Engelse speltoetser op het. Elke keer as ek tik “skerts”, foeter hy om dit te verander in “skirts”. Dit is nogal nie onvanpas nie – in die lig van al die “spesiale meisies”, “verloofdes”, “enigste liefdes” en dies meer wat vriend Danie (kammakastig) op sy kerfstok het. Melkbossers sien hom ook soos ‘n ware Franse heer rondloop en oral net hande soen. ‘n Mens is eintlik verlig om uit sy eie mond te hoor Esbé sal sy enigste weduwee wees!

Van weduwees gepraat: hier is ‘n regte-egte Danie Krÿnauwstorie wat verklap hoe ‘n deurtrapte draaksteker hy is. Dit speel af in die plaaslike Pick ‘n Pay waar hy by die kassier opdaag met ‘n hand vol mottegif. Hy wil graag weet wat kos dit, deel hy die kassier mee, want sy vrou strooi elke oggend so ‘n bolletjie, fyn gemaal, oor sy ontbytkos.

Gif by die brekfis! Die jong kassier se oë rek soos pierings. Sy spring op en gaan roep die bestuurder. Danie moet sy storie herhaal. “Meneer,” stamel die bestuurder, “jy moet dadelik dokter toe, hy sal jou verder help.”

Dat Danie nie die gewone 70-plusser is nie, hoor jy sommer dadelik as jy sy nommer skakel. ‘n Swaar Engelse aksent kondig aan: “Buckingham Palace here.” Wat die verklaring is? Seker maar dat hy ‘n stemkunstenaar was wat vele rolle in radiodramas vertolk het. Blykbaar is dit ‘n geval van: een keer ‘n stemkunstenaar, altyd ‘n stemkunstenaar.

Danie is by uitstek ‘n storieman. Hy het ‘n storie vir elke okkasie. Gewoonlik deurspek met skerts en humor. Die skerts en die skryf gaan hand aan hand – soos blyk uit die volgende humoristiese stukkie in een van sy self gepubliseerde bundeltjies, Kry nauw ‘n knertsie:

“Sy (‘n vriendin van Esbé, Christle Böhringer) het baie babatjies in Distrik Ses gevang. Een aan laat moes sy weer ‘n baba in ‘n klein kamertjie gaan vang.

” ‘n Lamp het op die tafeltjie gebrand en ‘n kers of twee was ook opgesteek. Christle het op ‘n primusstofie water gekook. Uiteindelik het die kleintjie ‘n eerste skree geskree.

“Nadat Christle die baba gereed gekry het, het sy die baba nader aan die lamp geneem. Dit lyk toe vir haar asof die baba rooi hare het. Sy gee die baba vir die enkelmoeder en vra: ‘Het die pa rooi hare?’

“ ‘Ek weet nie, nursie, want hy het ‘n hoed opgehet!’ ”

Danie en Esbe het in Junie 2006 goue bruilof gevier. Hulle is op Saterdag 9 Junie 1956 getroud. Danie, die ou grootbek, verkondig ewe windmakerig: “Ons moes trou! Ons seun, Danie, is op 8 Junie gebore.”

“Danie is wel op 8 Junie gebore, ja,” verduidelik Esbé, “ maar, let wel, eers op 8 Junie 1964 – ‘n hele 8 jaar later. Sy voeg by: “Danita (die eerste) is self eers op 26 Maart 1963 gebore, na 7 jaar se huwelikslewe. ‘n Krÿnauw laat hom nie aanja nie!”

Een van Danie se huidige gunstelingstories is van sy “neef” wat so ‘n vinnige kar het. Hy jaag een dag vir ‘n vale, sien die blou lig van ‘n verkeersmotor wat hom agternasit en trap toe die petrol behoorlik weg. Later hou hy onder ‘n boom stil. Na ‘n lang ruk kom die verkeersmotor aangejaag.

“Hoekom ry jy so soos n mal mens?”

“Ekskuus, inspekteur, my vrou het tien jaar gelede met ‘n spietkop weggeloop. Ek was bang dis hy wat haar wil terugbring!”

As Danie by die ontknoping kom, besef elke mens natuurlik hy lieg. Maar met die volgende storietjie vang hy nogal hier en daar iemand wat besorgd kloek:

Die bure daar in Living Sea waar hulle woon, se seuntjie is vyf. Hy speel met ander bure se dogtertjie wat ook vyf is en vra haar vertroulik toe sy langs hom sit: “Het jy al seks gehad?” Sy: “Nee, ek het nog net masels gehad!”

Hierdie twee stories sal ongetwyfeld ook nog hul weg tot in druk vind. Danie is ‘n ywerige bundeltjie-maker.

Die skryfgogga het Danie meer as 60 jr. gebyt toe hy ‘n laerskool-kannetjie was – ‘n hardnekkige gogga wat hom oor 70 lewensjare nooit wou uitlos nie. Stukkies uit sy pen is in Die Klein Burger, in Kerkbode, in skooljaarblaaie, in studenteblaaie, personeelblaaie, ens. gepubliseer. Vandag kan jy nie die gemeenteblad Visnet oopslaan nie of daar is iets deur Danie in.

Danie en Esbé het in 1997 hier op Melkbos kom aftree. Die seelug en ontspanne atmosfeer van ons kusdorpie akkordeer blykbaar goed met hulle. Hulle word net jonger en jonger, indien dan nie van jare nie, dan wel van gees. (HvD)

Deel dit: