Verydeling en frustrasie op Ricky Januarie se gesig.

Verydeling en frustrasie op Ricky Januarie se gesig.

Koddige tydsberekening, lyk dit, as ek juis vandag skryf oor reusegolwe wat die Kaap getref het na die eerste sjampanje-aand in maande waarop ek en mev. Van D., wyntjie in die hand, op die stoep kon sit en kyk hoe die son se laaste gloed oor die Atlantiese Oseaan wegsterf.

Maar golwe was daar wel weer die naweek in hierdie Kaap van Storms – en dan praat ek nie van die rowwe see buite Tafelbaai-hawe (waarvan ek net lees) wat die massiewe vliegdekskip USS Theodore Roosevelt se leer laat knak en besoekersverkeer op en af van die skip belemmer het nie.

Nee, volg my oë suidwaarts, verby Groote Schuur (soos ek hom nog maar noem) Constantia se kant toe. Stop by Nuweland, waar die W.P. wel die Transvaalse Leeus se stert geknoop het, maar nie hul sege kon rek tot die vereiste vlak om vir ‘n Curriebeker-halfeindstryd te kwalifiseer nie.

Die golwe van verslaenheid en verydeling onder WP-ondersteuners is opgesom deur die grootletter-plakkaat van die Weekend Argus: WP BLOW IT! Die Kaapse bekerdroogte duur dus voort. Die sewende maer jaar het aangebreek – en dit vir ‘n landstreek wat oor sy rugby net so ernstig is as oor sy wyn.

Nou moet ek dadelik ‘n mate van deernis bely vir my Streeptrui-vriende, want ek glo hul span met al sy Springbokke terug sou hom vorentoe kon laat geld het, en selfs nog die Haaie of die Bulle kon verras. Jean de Villiers se troepe is ‘n gedugter eenheid as die Leeus of die Cheetahs – kom ons erken dit maar.

Die dure les wat die Kaapse span moes leer, is dat die Curriebekerstryd soos ‘n marathon is. ‘n Kraglopie wenpaal toe beteken niks as jy aan die begin van die wedloop so gepoer-poer het dat jy te ver agtergeraak het nie. Maar dit daargelaat.

Ek het hierbo verwys na ‘n mate van deernis. Ek kon amper praat van ‘n teensinnige mate van deernis. Want in die feit dat die W.P. nie die uitverkore vier kon haal nie, steek vir my ‘n groot element van, wat die Engelse noem, “poetic justice”.

My simpatie is verbeur deur daardie hoge W.P-geeste wat nie die versoeking kon weerstaan nie om ook op die wa te spring om die Cheetahs en die Griffons by te kom oor hul beweerde “misbruik” van die leenstelsel. Beginsel se voet, vir die WP het dit doodeenvoudig gegaan om wat hulle nie op die veld kon vermag nie in die raadsale te bereik, sê ek.

Die oë het geblink oor die halwe kans om by die agterdeur in te glip as die Cheetahs sou moes ligapunte inboet – al het die WP in geen enkele opsig deur wat daar met Hennie Daniller-hulle in Bloemfontein en Welkom gebeur het, aan die kortste ent getrek nie.

Dat die Arende gekla het, is goed en wel. Hulle is uitgeknikker deur ‘n Griffonspan met leenspelers en kon redeneer dat hulle ingeloop is. Maar die WP? Hy was net skaamteloos opportunisties, dis al.

Gelukkig vir die Vrystaters het hulle hul huiswerk gedoen en kon die regsbeampte, Dekker Govender, geen oortreding van die betrokke regulasie (Regulasie 7,5) vind nie. Harold Verster, Naka Drotské en hul mede-Vrystaters kon in hul mou lag, terwyl veral die WP (en die Kaapse koerante) se gesigte die ene eier was.

Ongelukkig was hierdie”ligte” WP-mistykie nie sy eerste op die terrein van sportmangees vanjaar nie. Daardie onwaardige gretigheid ‘n week gelede om nie teen die Kavaliers op Wellington te speel nie maar eerder voor sy tuisskare op die lekker Nuwelandse oppervlak was waarlik ook niks anders as opportunisme van die ergste graad nie.

Goed, goed, ek weet die WP-manne sal steen en been kla dat ek nou onregverdig is, en dat dit die Bolandse rugbybase wat in daardie amperse bespotting van geregtigheid die inisiatief geneem het. Maar die WP het hom darem ook nie twee keer laat nooi nie, al moes hy mos vooir sy siel geweet het ‘n verskuiwing van die wedstryd sou hom in sy jag na bonpuspunte ‘n onregverdige voordeel besorg het. Sy antwoord moes kort en kragtig gewees het: “Haai nee, ons kan mos nie!”

Die Haaie – en ‘n minder mate die Cheetahs – moes mos maar ook op Wellington in die modder ploeter, nie waar nie?

‘n Sekere seksie Nuwelandse toeskouers maak die Kaapse rugbykultuur met hul gedurige uitjouery van besoekende spanne se skoppers nie juis gewild in die res van die land nie. Die unie se rugbybase moet nou nie daardie beeld verder gaan aftakel met die jakkalsdraaie wat hulle gooi nie.

Waarvoor ‘n mens maar veral moet oppas, is dat jy nie self agter die deur betrap word nie. Onthou die geval Brian Mujati? Nie almal in die noorde is gemaklik dat daar met die sterk Zimbabwiese stut se afrokkeling suide toe nie destyds heelwat suurlemoensous geloop het nie. (HvD)

Deel dit: