Motorkapers raak al hoe waaghalsiger, openbaar al hoe minder menslikheid en betoon al hoe minder genade teenoor hul slagoffers. ‘n Resente kaping van bekendes in Pretoria se geliefde ou Kombi Transporter uit die jare 50 was teen hierdie agtergrond genadiglik geen groter verlies nie as dat ‘n gewillige ou tog-os met ver meer as 200 000 km op die klok uit hul lewens verdwyn het.
Naas die gewone kloekgeluide van meegevoel en betuiging van skok kon die uwe hom darem ook (en ek sê dit maar saggies, al was die omstandighede soos dit was) ‘n sardoniese glimlaggie veroorloof.
Laat ek gou verduidelik. Die glimlag was nie uit kwaadwilligheid nie; bloot omdat dit die gedagtes teruggevoer het tot die kaping van ‘n eenderster bussie in Bloemfontein jare gelede toe kapings – veral in die goeie ou Oranje-Vrystaat (ja, so lank gelede) – nog amper iets so vreemd soos seerowery was.
Die slagoffer in daardie geval se huwelik was na ‘n leeftyd saam op die rotse en die lewe het hom genadeloos gedruk. In sy broosheid en ontreddering besluit hy toe hy kan dit eenvoudig nie langer vat nie. Selfmoord is al uitweg.
Hy loop dae en tob oor die voortreflikste manier om ‘n einde aan alles te maak. Uiteindelik val sy keuse op ‘n beproefde metode: dié van die tuinslang. Hy gaan koop spesiaal by ‘n afslagwinkel (op sy vrou se rekening) ‘n netjiese nuwe stuk om aan sy geliefde Transporter se uitaatpyp te verbind.
Op ‘n kil wintersaand met feitlik geen maan teen die donker lug nie ry hy stadig Naval Hill op, soek vir hom ‘n verlate parkeerplekkie onder ‘n alleen-boom en spring aan die werk. Toe alles gereed is, en hy vir oulaas die sterre bo hom en die stadsliggies onder hom ‘n ruk in doodse stilte betrag het, skakel hy die enjin aan en laat die geduldige masjien egalig voortluier.
Stadig, stadig sink hy in ‘n diep slaap weg. Dieper en dieper.
‘n Onaangename gewaarwording wag: snerpende koue wat deur murg en been sny; ook ‘n seer lyf, soos een wat geruime tyd ongemaklik gelê het, boonop op harde klip.
Herinneringe aan sy verskriklike bedruktheid, sy groot besluit en sy laaste paar uur in die kombi maal deur sy benewelde kop. Sy oë fladder oop. Doer in die ooste breek die dag. Om hom is vaal winterveld, en ‘n ent verder ‘n kameelperd wat met ‘n lui tong ‘n paar blaartjies van ‘n boom stroop, sy oë nuuskierig op die vreemde, witgerypte figuur hier skuins voor hom.
Sy kombi! Die gedagte flits skielik deur die arme drommel. Wat het van sy kombi geword?
Hy strompel Bayswater se polisie toe, en vertel daar stamelend die verhaal van sy abortiewe selfmoord aan ‘n vaak konstabel, wat skielik geskok uitroep: “Jis, oom, toe steel die bliksems wragtig jou sterfbed onder jou uit.
“Siestog, nou het oom nog meer worries!” (HvD)
