In Carl Niehaus se matriekjaar in 1977 het sy ma ‘n nuwe huisbediende , Mary, in diens geneem. Niehaus beskryf haar as jonk, lank en skraal “met vlytige hande en ‘n bree, vriendelike glimlag” (Om te veg vir hoop, Human & Rousseau, bladsy 41).

Een middag, terwyl sy besig was om skottelgoed te was, het hy besef dat sy vir hom aantreklik is. ‘n Ruk lank het hy dit geniet om na haar daar by die opwasbak te kyk … toe begin die skuldgevoelens. Hy is wit, sy is swart: hy mag nie die “oulike kuiltjies in haar wange sien wanneer sy lag nie”.

Oor die onmoontlikheid van die situasie het hy “stug en ongeskik” met haar geraak. Later het sy hom ook nie meer met ‘n glimlag gegroet nie. Een middag toe hy tuis kom, was sy afgedank. Sy was, volgens sy ma, “te astrant”.

Jare later het hy een nag in die tronk wakker geword en Mary onthou. Eers toe het hy hom die lang ontwykte vraag veroorloof: “ Is sy afgedank omdat Mamma gesien het hoe ek na haar kyk?”

Feit of verdigsel? Dis enigiemand se raaiskoot. Na al die Carl Niehaus-bog wat in die laaste dag of drie oopgekrap is, begin ‘n ongemaklikheid wat ek met die eerste lees van hierdie vreemde anekdotetjie ervaar het, egter weer aan my knaag.

Dalk is ek nou te skepties oor als wat hy kwytraak. Dat die man ‘n ryke verbeelding het, het ons egter tog al vasgestel. (HvD)

Deel dit: