Jong Janet Leigh
More uit Melkbos
My onvleiende verwysing na die gewese Franse sekskat Brigitte Bardot (75) as “uitermate beplooi”, het my laat wonder oor Janet Leigh, die fyn blondekoppie wat onder die stort in die legendariese Hitchcock-riller Psycho (1960) met ‘n mes doodgekap is (vorige blog).
Leef sy vyftig jaar later nog en hoe oud sou sy nou wees?
Me. Leigh leef, helaas, nie meer nie. Sy is op 3 Oktober 2004 op ouderdom 77 in haar slaap oorlede weens vaskulêre probleme. Die Byl kap oral.
Ouer Janet
Na Psycho het sy dus nog 44 jaar geleef, en na haar rol as Marion Crane in Psycho nog verskeie goeie rolle vertolk, onder meer in The Manchurian candidate and Touch of evil. Sy het uiteindelik in 60 rolprente gespeel, onder andere teenoor Robert Mitchum, Ezio Pinza, James Stewart, Dean Martin, Jerry Lewis, Frank Sinatra, John Wayne en Dick Van Dyke.
Die storttoneel in die Bates Motel in Psycho was egter die hoogtepunt van Janet se loopbaan. Dit het vir haar ‘n Golden Globe en ‘n Oscar-benoeming verwerf as die beste ondersteunende aktrise, en het tot drie opvolg-rolprente gelei. Sy het later selfs ‘n boek oor Psycho geskryf.
Daarin het sy die geheimpies uitgelap dat sy vir die verfilming van die storttoneel persoonlik sewe dae lank in die stort was, en dat sy daarna, soos vele fliekgangers, nooit weer van stort wou weet nie.
Ek het al vergeet dat sy in ‘n stadium getroud was met Tony Curtis. Gelukkige Tony! ‘n Dogter uit hul huwelik, Jamie Lee Curtis, het ‘n ster uit eie reg geword, maar haar sprankelende ma was mooier.
Anthony Perkins, wat die rol van die moorddadige moteleienaar in Psycho gespeel het, is al in 1992 op 60 oorlede aan komplikasies wat
veroorsaak is deur die HI-virus.
Perkins is in 1956 vir ‘n Oscar benoem vir sy ondersteunende spel in Friendly Persuasion, waarin hy saam met Gary Cooper verskyn het.
Ook in sy geval was dit egter Psycho wat hom en sy karakter Norman Bates rolprentlegendes gemaak het.
Doris Day
* Twee van my gunsteling-“meisies” van daardie dae wat nog leef, is Doris Day (86) en Debbie Reynolds (78). Doris se trefferliedjie Que Sera Sera (Whatever will be will be) laat nou nog my bloed tintel. Op Debbie in die titelrol van Tammy in die rolprent Tammy and the bachelor (1957) het die uwe smoorverlief geraak
“Tammy, Tammy, I am in love”! (HvD).
Debbie Reynolds




