Aan die begin van my derde jaar, 1960, breek die einde van ‘n glorieryke era vir Tukkies se Kollegetehuis aan. Ons moet trek, van die kampus af Proefplaas toe.
Wonderbaarlik is die liefde vir ons koshuis wat in die ou gebou (en sy anneks: die Klubhuis) deel van ons DNS geword het, ongeskonde na ons nuwe tuiste oorgedra. Die volledige Kollege-karakter en –gees wat in die eerste amper vyf dekades van Kollege se bestaan deeglik ingewortel het, is sorgsaam ingepak en het saam die trek na die Proefplaas onderneem.
Ook die gelukbringer Sarge Bourke is saam – ‘n gewigtige sementbeeld van ‘n besnorde polisieman in uniform wat met groot inspanning in 1942 op ‘n nagtelike ekspedisie met ‘n tweesitplek-Chevvie uit ‘n tuin vol dwergies en ander verwante tuinversiersels in die woonbuurt Gezina gaan haal is.
En ‘n element van weerbarstigheid – sommer gou-gou betoon met ‘n serenade (op syn goeie Ingels uitgespreek as serenyd) by die nuwe dameskoshuis Klaradyn waarvan die luidrugtigheid slapendes so versteur het dat die polisie ontbied is.
As een van die pioniers van daardie Groot Trek doen ek daaroor taamlik uitvoerig verslag in die derde boek van Pretoriastories, versamel deur Pieter Swanepoel. In die bundel is sowat 30 boeiende nuwe Pretoriastories deur trotse Pretorianers. Die herinneringe is kosbaar. ‘n Mens kan nouliks dink dat iemand met die een of ander Pretoria-konneksie kan nalaat om dit te lees.

Die boek kos net R200. Dit is beskikbaar by Exclusives. Dit kan ook bestel word by die redakteur/uitgewer by info@pspublishers.co.za

Deel dit: