Illustrasie by my artikel vandag op Rapport se blad op Netwerk24.

Die laaste blyplek van Wynand en Dalene Mouton voor haar skielike dood in April 2008 en syne twee maande later, op 21 Junie, was twee gekoppelde pragwoonstelle in Kusweg, Strand, met ’n manjifieke see-uitsig.

In ’n spesiale hoekie van die Moutons se tuiste in die Metropole-gebou (as ek die naam reg onthou) had elkeen sy/haar eie vaste stoel. By kuiers is groot stories in daardie hoekie gepraat. Prof.  Mouton se kritieke rol om met die politieke oorgang in die 90’s Suid-Afrika se kernarsenaal af te takel, was een uiters boeiende gespreksonderwerp.

Watter gedugte taak was dit nie. Sy sleutelrol as onafhanklike ouditeur was om as’t ware toesig te hou oor die hoogs geheime proses en te sorg dat elke jota en tittel van die fynskrif nagekom word.  Vir die verantwoordelikheid het staatspresident FW de Klerk die gerespekteerde kernfisikus en oud-rektor met die hand uitgesoek.

In daardie senutergende tyd het hy dit ’n keer letterlik met ’n bom in die bagasiebak van ’n Toyota Corolla op die M1 tussen Johannesburg en Pretoria gewaag – darem stewig vasgebout. Hoe het hierdie oudredakteur nie namens latere kollegas lippe afgelek vir daardie scoop nie.

Die afgelope week met Pieter Steyn se reeks oor “Die Bom op Kyknet (kanaal 144) op omtrent almal se lippe het ek telkens gewens dat ek net die Moutons se nommer kon skakel en sy rustige bedaarde stem aan die anderkant hoor. Vir heelparty vrae in my gemoed oor ons ses (amper sewe) bomme en die reusetaak om dit af te takel, sou ek by hom wou antwoorde soek.

Geheime sou hy nie verklap nie – sy integriteit was uit graniet –  maar ek is taamlik seker: danksy kennis wat deur Die Bom bygedra is, sou ek dalk  ‘n omvattender storie kon loswikkel as die oppervlakkige een wat ek ken.

Prof. Mouton se era as rektor van die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat en my era as redakteur van die destydse dagblad Die Volksblad het saamgeval. Veral ná ’n gesellige naweek saam in die jagveld was ons goeie vriende wat oor en weer as klankbord gedien het. .

Ons was op die wildplaas Tussen-die-Riviere by Bethulie gaste van die Vrystaatse provinsiale administrasie. ’n Bedrewe skut het vir ons twee geweerskuwe manne ’n geskenk-eland platgetrek – ’n berg vleis.

Harmonie tussen rektor en redakteur was nie altyd maklik nie. Op die kampus was avontuurlike groepe soos die manne van die Reitzkamerwonings. Die onbesonne streep in elke generasie se studente sorg soms vir sappige nuus.

Saam met die Matrieknooi van 1985, Marinda Dercksen van Bloemfontein.

Tog het ’n opbouende verhouding bestaan. Die koerant en die universiteit – die “waarheid” en die “wysheid” – het hande gevat in onder meer die glansryke Matrieknooiwedstryd, wat in 1981 op inisiatief van Die Volksblad tot stand gekom het.

Prof. Mouton se Kovsie-nalatenskap is enorm. Onder sy sorg het sy alma mater as ’n voorste navorsingsuniversiteit ontluik; uitgebreide sportvelde, spesifiek Shimlapark, is op die Wes-kampus ontwikkel; die kunsversameling is vergroot, en ’n moderne, goed toegeruste teater (wat later na hom genoem is) is vir studenteproduksies gebou. Vir sy waardevolle bydraes is hy in 1995 met ’n eredoktorsgraad en in 2004 met ’n Eeufeesmedalje vereer.

Buite die akademie het hy sy eerste diep voetspore getrap toe hy hom in die onstuimige 80’s die voorsitterskap van die SAUK as ’n tweede verantwoordelikheid laat welgeval het. ’n Kringloop is daarmee voltooi. Ná vier dekades was hy terug in ‘n omgewing waar hy in die 40’s  as koerantverkopertjie begin het – die media.

Waarvoor hy hom ingelaat het, het die voorsitter algaande eers besef. ’n Ongesonde beheerdrang by die regering van die dag (lees minister Pik Botha) het hom uit die staanspoor grys hare besorg. Agter die skerms was politieke spanning ’n konstante skadu teen die muur. Sulke netelige kwessies soos ja of nee vir die uitsaai van Sondagsport was op die agenda.

Vir ’n besadigde akademikus was die nuwe pad vol slaggate. As ’n redakteur met spanning en stryd sy daaglikse spyse kon ek ten minste met empatie luister.

Toe, aan die einde van 1989, neem die staatspresident, F.W. de Klerk, die strategiese besluit om die land se arsenaal van atoombomme te vernietig. Kort daarna, in Maart 1990, katrol hy prof. Mouton in om verantwoordelikheid vir toesig oort hierdie hoogs sensitiewe en geheime proses te neem.

As onafhanklike ouditeur het hy ’n uiters belangrike rol gespeel in die aftakeling van Suid-Afrika se nogal aansienlike kernwapenprogram.

Vir eers moes hy verseker dat die bomme deur die tegniese span onder leiding van o.a. dr. Waldo Stumpf op ‘n berekende wyse korrek en volledig uitmekaar gehaal word. Hy het verkies dat dit met verdrag gedoen word.

Ten tweede moes hy aan die einde ook as onafhanklike arbiter kon sertifiseer dat alle verrykte uraan en wapenkomponente veilig by die Korporasie vir Atoomenergie (KAEO) terugbesorg en gedokumenteer is. Sy agtergrond as kernfisikus het hom vir daardie taak die nodige wetenskaplike geloofwaardigheid besorg.

Dat sy noukeurige ouditering as grondslag gedien het toe die Internasionale Agentskap vir Atoomenergie (IAEA) later ingeroep is, word deur ingeligte tydgenote gestaaf. Nadat Suid-Afrika in 1991 die Kernsperverdrag (NPT) onderteken het, het die regering volle toegang aan die IAEA verleen om prof. Mouton se bevindings te kom verifieer. So is aan die (soms bra skeptiese) wêreld bewys dat die program permanent gestaak is.

Hy was geen politieke figuur nie en sy rol was ook nie enigsins politiek van aard nie, wel wetenskaplik en administratief. Waarop dit neerkom: hy moes verseker dat die fisieke “aftakeling van die bom” deursigtig, veilig en onomkeerbaar plaasvind voor die oorgang na ’n nuwe demokratiese bedeling. Daardie tydsberekening is van die uiterste belang geag.

Omdat hy so nederig, rustig en bedaard was, ’n minsame mens-mens wat sag gepraat en geredelik geglimlag het, het sommige hardekoejawel-tydgenote hom tot hul eie skade of verlies onderskat. ’n “Malvalekker” – so het ’n bekende in die mediawêreld hom tipeer. Dit was ’n oordeelsfout, want binne daardie toeganklike uiterlike was keiharde staal: die staal van beginselvastheid, opregte geloof, verstandigheid en logiese denke. Laat die mistaster se naam liefs verswyg bly.

By terugskoue kan ‘n mens wel wonder of hierdie “malvalekker van staal” voldoende erkenning kry vir sy kritieke en deurslaggewende rol aan verskeie fronte.

 

 

 

 

 

 

 

 

Deel dit: