Soos die Tukkies se rugbytrui in 1961 gelyk het, lyk dit nou nog. Dis Kollege se eerste span met Pierre le Roux as kaptein.

Tukkies se rugbytrui lyk soos die ene wat ek in die winter van 1958 die eerste keer oor my kop getrek het as linkervleuel vir die o. 19D’s teen Oostelikes. Dis nou stabiliteit en tradisievastheid wat ek ek respekteer en salueer.

Die kleure-rondomtalie van die grotes is daarenteen erg verwarrend. Om die Stormers in swart teen die Sharks te sien speel – die Sharks van alle spanne – is amper lagwekkend.

Op die paviljoene sit die Stormer-ondersteuners -‘n see van die tradisionele wit en blou strepe. Hulle swaai ewe getrou hul blou vlaggies of hul lewens daarvan afhang. Raar.

‘n Kamera val op ‘n Sharksondersteuner van kop tot tone in swart. Siestog, vir haar moes die volslae identiteitsverwarring maar aaklig gewees het. Of wat praat ek alles?

Toeskouers en TV-kykers wat Saterdag verwar was, sal dalk simpatie kan ervaar met die arme Jurie Gryffenberg wat verantwoordelik was vir seker die ergste rugbyverwarring ooit.

Die Burger moes in 1958 bloedrooi bloos oor die jong Jurie, latere ambassadeur, se verslag oor ‘n rugbywedstryd in Bellville: die tuisspan teen die toerspan van die Tukkies.

Hy (nie ‘n rugbyskrywer nie) is die enigste siel in die persbank. Hy vra sommer gou vir ‘n toeskouer watter span is watter een.

Die volgende dag verskyn sy verslag, onderteken deur JG, op die sportblad. Die opskrif lui: “Bellville wen; heelagter kry 15 punte.”

Maar o wee, dit was die Tukkies wat 24-6 gewen het. Dit was die Tukkie-heelagter, Charlie Meyer, wat 15 punte aangeteken het.

Dit blyk dat JG die volle 70 minute lank die spanne met mekaar verwar het. Sy verslag was ‘n presiese spieëlbeeld van die werklikheid.

Dieselfde berig, in verkorte vorm, verskyn ingevolge ‘n ruilooreenkoms ook in die Cape Times. Die korreksies in albei gevalle was heelwat langer as JG se oorspronklike agterstevoor-berig!

Deel dit: