Vir spys en drank sê ons U dank,
Ons loof U naam o Heer …..
Van die naweek-saamtrek van ‘n stranddiensspan van die Kruiskerk van Stellenbosch by ons hier op Melkbos is hul pragtige weergawe van die tradisionele Voortrekker- / kerkkamp-liedjie voor elke ete van die aangenaamste herinneringe.
Die enigste aangename herinnering is dit verreweg nie. Ek en Tokkie voel verryk deur alle aspekte van die nuwe ervaring.en vol moed vir die toekoms as dit die kaliber jongmense is wat die leisels gaan vashou.
Dit was kleinseun Jacob Claassens se idee om die span Melkbos toe te bring – 22 studente altesaam. Oupa en Ouma was dadelik positief.
Slaapplek was nogal ‘n uitdaging. Die sitkamermeubels is uitgedra motorhuis toe om ‘n groot slaapsaal met kermisbeddens te skep. Slaapsakke en matrasse was oral net waar jy kyk: tot in die voorportaal, studeerkamer en binnetuin.
Hoe almal by die badkamers en net twee beskikbare storte kans gekry het, weet ek nie. Maar ‘n boer maak ‘n plan.
Op die program was erns en luim: Bybelstudie, stiltetye, strandbesoeke, speletjies, pret … en kosmaak. Hoe is nie kos gemaak nie: ‘n berg hamburgers, ‘n stapel hoenderdye en –boudjies op die kole, ‘n hoop braaibroodjies, skottels vol aartappelslaai.
Die ou mense was toeskouers vol verwondering soos die vreemde avontuur vir hulle hom in vinnige pas op hul werf afspeel. Ek plaas net enkele foto’s.
Miskien die verrassendste: die totale afwesigheid van drank (buiten, natuurlik, my en Tokkie se gewone paar glasies). En die aangrypendste: stiltetye wanneer elkeen met sy /haar Bybel ‘n rustige bestemming opsoek: eenkant op ‘n duin, op ons bankies langs die see, in ‘n sonkolletjie op die gras.
Vanoggend is ons twee oues kerk toe. Met ons terugkeer tref ons die span voor die huis aan, dis huis–toe-gaan-tyd. Ons stap die huis is en staan verstom oor die metamorfose. Elke ding is op sy plek. Penguin Place 11 lyk glad nie of daar ‘n uur tevore nog ‘n studentesaamtrek was nie.
Ons is dankbaar teenoor elkeen van die oulike Maties – vir ons geskenkies, vir hul bedagsaamheid, ordentlikheid en voortreflike opruiming, maar miskien die heel meeste vir die positiewe insig wat hul kuiertjie ons gebied het in die voorbeeldige leefwyse van sulke juwele van ‘n nuwe generasie soos hulle.
Ons glo mooi dinge wag op almal van hulle vorentoe.
As sy oupa sal dit my seker gegun word om Jacob vir sy bydrae as braaimeester spesiaal te vermeld. Jan Braai kan kom wenke kry.
Wat ‘n week was dit nie vir Jacob nie. Die week het begin met ‘n optrede as een van die vyf studentestemme by ‘n groot konferensie van finansiele adviseurs by die Waterfront.
Donderdag hy hy die nuus gekry dat hy een van die 43% van die kandidate is wat die vlak 1-eksamen van die CFA-instituut geslaag het. Die CFA (Chartered Financial Analyst) is ‘n internasionale batebestuurs-organisasie en die eindkwalifikasie (vlak 3) word beskou as die “goud-standaard” vir professionele mense in batebestuur, portefeuljebestuur en beleggingsanalise. Ons is trots op sy eerste groot tree op daardie pad.