34 Tokkie-treë ooswaarts van die ingang na Tarlehoet Apiesdoringlaan se kant toe het my dapper vrou vanoggend op haar oggendwandeling ‘n luiperd in Wilgevylaan, Sabiepark, raakgeloop. In die middel van die padSoos ‘n yslike hond het die rustende roofdier daar gelê, massiewe kop op sy pote in die koelte van ‘n knoppiesdoringboom. Sy het my gaan wys waar – maar toe beskut in die Honda. Ek het darem uitgeklim om die foto te neem waar sy staan en beduie (foto 1).
Met ‘n bietjie verbeelding sou ‘n mens hom kon plaas met kop en voorpote duskant die grens met ons buurman, dr. Hendrik van Tonder van Pretoria en torso aan sy kant van die afgesaagde paaltjie wat ek op die grens geplant het.
Dis ‘n klip wat iemand daar gerol het, het sy gedink en aanhou stap, soos altyd op foto 2. Sowat 25 treë weg van die donker voorwerp wip hy orent en verdwyn draf-draf die veld in op buurman Hendrik se erf.
Dis hy wat vir haar geskrik het en nie sy vir hom nie, benadruk sy – en, onthou nou, sy was ongewapen. Eers nadat sy my kom inlig het, is sy met ‘n stok in die hand hier weg, vreesloos weer op dieselfde roete.Vir iemand wat wil aftree, kyk uit vir Tarlehoet se naambord by die skewe knoppiesdoring. Die 34 treë begin aan die oorkant van die motorpad.
Oor die Van Deventers se luiperd-insidente in 26 jaar in Sabiepark kan ons lank skryf, onder meer oor die een op ons stoep – ja – en ‘n ander by ons lapa. Elke ontmoeting in ‘n straat was egter nog veilig in ‘n motor. Hierdie was die eerste onder vier oë te voet.