
Die opwinding laai op oor die verskyning van Die Papier oor’ ‘n week op 6 Maart. Op die koerant se skouers rus ‘n groot verantwoordelikheid om te kom help bewys dat die gedrukte koerant nie ‘n uitgestorwe ou reliek is soos die ossewa nie (die beeld van julle weet wie).
In die kantore waar die eerste Die Papier tot stand kom, heers bepaald reeds opwinding, afwagting, en ‘n mate van gesonde spanning. Dit is ‘n bondel energie daar wat knoop en ontknoop en wag om los te bars.
Dis nie raaiwerk nie. Met elke vooraf-tree van die Beeld-stigting in September 1974 het ek immers intiem saamgeloop. Trouens, ek is die enigste oorlewende van die klein pionierspannetjie wat reeds in Junie in die hartjie van Johannesburg begin planne maak, mense werf en drome droom het.
Dis ‘n tintelende gevoel om ‘n nuwe koerant te begin. Ek dink daaraan as ‘n hoogtepunt in ‘n koerantloopbaan met vele hoogtepunte.
Met die oog op die koms van die nuweling het ek die versamelfoto gaan uithaal van tonele rondom Beeld se eerste verskyning op Sondagaand 15 September (die koerant het natuurlik die datum gedra van Maandag 16 September.)
Bo regs dwaal redakteur Schalk Pienaar laataand deur ‘n verlate verslaggewerskantoor in die lelike ou eerste Beeldgebou in Millerstraat, Doornfontein – nes ‘n verwagtende vader by die geboorte van sy eersteling.
Die formidabele redakteur sou helaas net enkele maande in sy veeleisende hou voordat hy weens swak gesondheid die aflosstokkie aan Johannes Grosskopf moes oorhandig.
Die klein fotot’jie regs onder is die Sondagmiddag in die fabriek geneem. Die eerste nuusredakteur, dis nou ekke, staan opgewonde en kyk hoe die eerste voorblad gestalte kry. Dit is meer as ‘n halfeeu gelede. Dit voel soos gister.
Die heel eerste uitgawe het verskyn met ‘n scoop. Die Burger se Alf Ries, prins van politieke beriggewers, het daardie oggend met die Boeing uit die Kaap die berig gebring – met komplimente van PW Botha: “Troepe oral op die grens”. Die Suid-Afrikaanse Weermag skud hom reg weens die chaos in Mosambiek ná Portugal se abdikasie. Troepe is oral op strategiese plekke aanwesig. Grense word gepatrolleer.
Pienaar regs) , besturende direkteur Lang David de Villiers(links) , groot dryfkrag agter die stigting van Beeld, en Phil Weber (middel), voorsitter van die Nasionale Pers, staan op die hooffoto ingenome met die nuwe baba. ‘n Mens kan sommer sien die drie Naspers-swaargewigte bars van trots op die weerbarstige nuweling wat die koeranttoneel in die noorde later ná ‘n lang en bitter stryd op sy kop sou keer.
In Julie 1980 moes ek vir Beeld vaarwel sê om terug te gaan “huis” toe – as redakteur van Die Volksblad waar ek in 1963 my joernalistieke tande begin sny het. Tussen 1974 en 1980 lê egter ‘n verhaal van fantastiese hoogtepunte. Ongelukkig ook laagtepunte. Maar watter onvergeetlike skof was dit nie.
Ek herhaal vandag graag ‘n woordjie wat ek ‘n keer uit die hart gespreek het en wat al telkens aangehaal is: Dat ek nie weet van enige ander koerant waarin soveel mense soveel liefde gestort het nie.
Ek dink Die Papier se mense gaan ook emmers vol liefde in hul koerant stort.