Lang David, Dik David en Heilige Dawid – so was die drie gemoedelik bekend: die een so gedug soos die ander. In die tweede helfte van die vorige eeu het hulle op verskillende terreine uitgestyg en sleutelrolle in Suid-Afrika gespeel.
Lang David is so genoem omdat hy uitermate lank was, Dik David omdat hy, soos die outeur hiervan, … wel .. nie skraal was nie, en Heilige Dawid (met ‘n “w” soos Dawid in die Bybel) omdat jy ‘n opregter man van die Woord skaars kon bedink.
Die drie tydgenote – leiers van formaat in die sakewese, die regswese en die kerk – was feitlik ewe oud. Twee was DP’s en een (Heilige Dawid) ‘n DW. Die twee DP’s was neefs. Twee van die drie het in 1918 die eerste lewenslig aanskou en een in 1919 (Lang David). Al drie het op Stellenbosch gestudeer en hul beskrywende name kom uit hul studentedae.
Met al drie was ek bevooreg om paaie te kruis, veral met die twee by wie die byvoeglike naamwoorde voor hul name aan hul posture te danke was. Met die “geestelike” een was net een vlugtige ontmoeting – maar ‘n seer aangename een – by ‘n bruilof van een van sy eertydse Tokkelok-studente se dogters.

Dik David
Dik David was ook, heelwat vleiender, as David Sasol bekend weens sy termyn as baas van Sasol van 1975 tot 1986 – ‘n era van konsolidasie en groei by die inheemse brandstofvervaardiger te midde van toenemende vloeibaarheid op globale oliegebied.
Kort voordat hy Sasol se leisels sou oorneem, het ek en kollega Herman le Roux, sportredakteur, ‘n sending onderneem om nuwe plattelandse korrespondente vir Die Volksblad te werf. Op Sasolburg het ons ook by die aspirant-baas gaan koffie drink. Hy nooi ons toe die aand huis toe waar hy en sy vrou, Mavis, bekroonde skryfster, ons gul ontvang het. Ons twee kollegas herinner mekaar vandag nog aan daardie ervaring.
Min het ons toe geweet watter invloedryke sake- en nywerheidsreus ons wellewende gasheer sou word. Buiten voorsitter van Sasol, Soekor en Natref, was hy onder meer ook voorsitter van die Raad van die Universiteit van Stellenbosch en lid van die Raad van die Randse Afrikaanse Universiteit, lid van die Eerste Minister se Beplanningsadviesraad, erepresident van die SA Atletiek-afrigtersvereniging, ondervoorsitter van die beheerraad van die SA Sportstigting, lid van die Nasionale Pers se direksie en lid van die SAUK- Raad. Noem maar op. Nie onverwags nie is hy vir sy diensbaarheid met die Dekorasie vir Voortreflike Diens bekroon.
Min het ekself geweet van die omvattende persoonlike kontak wat, formeel en informeel, met “Oom David” sou volg. Ons was in die jare 80 twee skofte lank medelede van die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond, in 1992 mede-inwoners van St. Martini Gardens in Victorialaan, Kaapstad, en van 1992 tot 1997 in dieselfde span onder die Naspers-sambreel (hy as direkteur en ek as koerantehoof in daardie termyn).
Die ywer waarmee hy almal om hom se familiebande nagespeur het, was ‘n kenmerk. Hy kon diep boor in die hoop dat hy iewers ‘n raakpunt met mense van statuur sou ontdek. In my geval is ons terug tot by stamvader Gerrit Jansz wat in 1687 uit die stadjie Deventer in Overijssel na Suid-Afrika gekom en hom as vryburger by Stellenbosch gevestig het. Daardie effense Stellenbosch-konneksie is werklik al waarop hierdie doodgewone plebejer kon roem.
Aan die direksietafel het hy prikkelende bydraes gemaak waarna fyn geluister is. Waar onderhandel moes word, is gereeld op sy knoppie gedruk vir koelkop-advies. In ligter trant: hy kon ook die bakkie lekkergoed naaste aan hom in rekord-tyd klaarmaak en dan rondkyk vir ander binne bereik!

Lang David
Die vlymskerpe Lang David De Villiers – Die Advokaat, het ons Persmense hom genoem – het sterk op die voorgrond getree as leier van Suid-Afrika se regspan by die Wêreldhof in Den Haag met die uitgerekte Suidwes-Afrika-saak aan die begin van die 60’s – ’n nasionale bydrae waarvoor hy, volgens oud-minister Pik Botha en andere, groter erkenning verdien het.
In sy skof van amper vyftien jaar by die Nasionale Pers van 1969 tot 1983 het hy groot en magtige dade verrig. Hy was onder meer die dryfkrag vir die beslissende deurbraak na die noorde met die stigting van die dagblad Beeld in 1974. Oor persvryheid en verwante kwessies het die Naspersleier binne die NPU (Nuusblad-Persunie) en elders onverskrokke en onvermoeid teen die magsugtige owerheid gestry; hy met sy voortreflike regsagtergrond altyd in die hartjie van die geveg.
Tot sy ewige eer het die nuwe baas die ou Perskultuur van spaarsamigheid (’n sterker s-woord bestaan!) kom omkeer – in die oë van die Pers se uitgebreide personeelkorps dalk een van sy vernaamste vernuwings. ’n Mercedes 220 is byvoorbeeld vir die gebruik van besoekende senior personeel aan die Rand aangekoop in die plek van ‘n ouerige Cortina ná ‘n persoonlike verleentheid wat hom nie geamuseer het nie.
My eerste kennismaking was in 1979 in Keeromstraat, Kaapstad, toe hy my (destyds by Beeld) ‘n pos in Port Elizabeth wou aanbied. Tot sy sigbare ergernis het ek dit summier van die hand gewys. Drie jaar later (toe ek reeds in Bloemfontein was) is die ongemaklikheid herhaal. Die keer was die aanbod ‘n pos in Johannesburg. Weer wou ek (om goeie gesinsredes) nie byt nie.
Weer was van sy kant daardie kenmerkende laggie wat niemand met geamuseerdheid moes verwar nie. Die oordeel dat ek ‘n hardkoppige en ietwat kortsigtige jong man was, boonop effens geneig tot langdradigheid, het my ore bereik. Tog het ons verhouding nooit stram geraak nie.
Ondanks sy tweede huwelik met ‘n Jodin het hy daarin geslaag om by die AB-leierskap ‘n oortuigende saak uit te maak vir die behoud van sy lidmaatskap. Met die AB-hoed op is onthale by sy herehuis in Oranjezicht aangebied waar ek ook ‘n gas was. Rae, die nuwe mev. De Villiers, moes dan eetgoedjies reg sit, maar haar die hele aand uit sig hou, soos die strenge gebruik was. Dit het haar eindeloos geamuseer. Om die geheimsinnige “Broers” terug te kry, ry sy ‘n keer na ’n Joodse delikatessen in Seepunt. Daardie aand smul haar man se Afrikanergaste aan regte, egte Joodse kosjerhappies!

Heilige Dawid
Heilige Dawid was ‘n deurwinterde kerkman; 43 jaar in die aktiewe bediening. Hy het twee doktorsgrade gehad en was twee keer dekaan van die Teologiese Kweekskool. Soos aan David Sasol is die Dekorasie vir Voortreflike Diens aan hom toegeken.
Onder kollegas het die regskape leraar die reputasie gehad van ‘n veelsydige, dinamiese en talentvolle kerkleier, iemand wat voluit geleef het as predikant professor, prediker en skrywer. In sy lewensuitkyk was dinge reg of verkeerd en hy het nie kompromieë geduld nie. Daarvoor moes hy soms kritiek verduur, maar het hy ook wyd respek afgedwing.
Minder bekend was sy musiekkant. As Matiestudent was hy lid van die Ivy Angovestrykorkes en die bekende Boereorkes van Oom Pietie le Roux. Hy was ook ‘n ywerige muntversamelaar.
Waar ek met sy aangename geselskap kennis gemaak het, was op die troue van Elbeth, dogter van ds. Gert Terblanche van Berg-en-Dal, Bloemfontein, my ou gemeente, en sy vrou, Retha in 2000 op Stellenbosch. Die onthaal was op die landgoed Vredenheim.
Ds. Gert is ‘n oud-student van prof. David. ‘n Lewenslange verhouding het by die Kweekskool tot stand gekom. Die hoogleraar het die egpaar Terblanche in die huwelik bevestig en later jare meermale by hulle tuisgegaan – soos ook graag by ander oud-studente. Vir ds. Gert staan dit uit hoe hy die name van oud-studente onthou het.
Prof. Dawid kon altyd die Tokkelokke uiters praktiese advies gee, onthou ds. Gert met ‘n vonkel in die oog. Een stukkie goeie raad: Moenie so eie raak met jou gemeentelede dat jy sommer by die kombuis instap, potte se deksels begin oplig en vra: ’Wat eet ons vandag?’ nie.
Dalk nog beter: Moenie praat van MY gemeente, MY kerkraad of MY pastorie nie. Netnou word dit sommer MY orreliste ook!