
Vuurtjies brand in Balule.
Oor my geliefde boskampie Balule teenaan die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier naby Olifantskamp in die Krugerwildtuin bekommer ek my morsdood. Wat het van hom oorgebly nadat die siedende rivier oor hom gespoel het?
Tonele wat ek in my verbeelding sien, sluit in net die spitse van die ses primitiewe rondaweltjies se grasdakke en die toppe van die grootste bome – die tamaaie ou kremetart in die hoek en dalk ‘n huilboerboon of twee – wat bo ‘n malende bruin watermassa uitsteek. Die res begrawe in ‘n watergraf.
Van al die kampe het Sanparke darem al iets laat weet, selfs die onbegaanbaarste op die oomblik. Oor Balule word onheilspellend geswyg. Niemand weet blykbaar iets nie.

Balule se halfmaan-rondawels.
Vir geen ander kamp in die Wildtuin het ek so ‘n hartsgevoel nie. Die band is diep en innig.
Op 20 Julie 2011 het ek en Tokkie die eerste keer in die klein ruskampie, 11 kilometer van Olifantskamp, oornag – ‘n droom bewaarheid. Ons was in rondawel 5. Ons het vroeg vuur gemaak en tot laat gekuier.
‘n Liefde het dadelik posgevat wat ons telkens teruggelok het, ook vyf jaar lank saam met Tukkievriende van die koshuis Kollege en in Augustus 2025 weer om te gaan afskeid neem. Dit was ons tiende besoek, en weer in randawel 5.
Een van die foto’s hierby is van die Augustuskuier waar Tokkie vir laas die ou bekslanerhek agter haar toetrek. Dis dalk ‘n simboliese foto.
.Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is /was ‘n uiters basiese, amper primitiewe kampie. Sanparke gebruik woorde soos “rudimentary”, “rugged” en “authentic” om dit in sy Engelse reklame te beskryf. Balule is /was al daardie dinge. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is /was egter ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.

Eerste besoek in 2011.
Die ses rondawels staan /het gestaan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi / gegooi het. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by /het bygedra tot ‘n blaredak.

En die laaste in 2025.
Teenaan die kamp druis die Olifantsrivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep. Dit gaan nie verander nie.
Ander herinneringe is van die hiënas wat saans kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek patrolleer. Van leeus wat genoeglik by hul prooi brul. Van sterre wat soos diamante skitter. Van die maan wat ‘n sprokiesland skep saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier.
Ai, ek onthou so helder. Mag dit so wees dat Balule sal opstaan en vir nuwe generasies besoekers steeds dieselfde herinerringe sal skep. Ek vra dan so mooi.