In ‘n land waar ontbering nie skaars is nie, moet ‘n mens sensitief wees en mooi nadink voordat jy jouself weens ontbering bejammer.

Gister, met vele Kerstafels rojaal oorlaai met die geurigste geregte, moet ek egter weer met ‘n skewerige bittersoet-glimlag van ‘n buitengewone Van Deventer-Kersfees onthou. ‘n Stuk oorskiet-toebroodjie en ‘n sluk Gordon’s was op die spyskaart. Net dit.
So gekom: Weens vrot huiswerk (geen huiswerk) bevind die uwe, Tokkie en dogter, Marisa, hulle oor Kersfees 2000 (of daar rond) in Londen. Dis nat en koud. Die donkerte sluip elke dag vroeg in en oorval jou as jy meen die middag is nog ver van verby.
Ons woon in ‘n bekostigbare woonstelletjie in St. John’s Wood, ‘n aangename woonbuurt net drie kilometer of so van Piccadilly Circus in goeie omstandighede. Die plek is veral bekend as tuiste van die beroemde krieketveld Lord’s, asook die ateljee in Abbey Street waar die Beatles, liewe Beatles, plate gemaak het. Op Kersdag wanneer alle openbare vervoer in die Groter Londen tot stilstand knars (inderdaad), is dit egter bra stil en afgesonderd: nie die beste plek om te wees nie.
Ons pak ons omgewing in St.John’s Wood op ‘n grou Kersdag te voet aan op soek na ‘n plekkie vir ‘n lekker Engelse ontbyt met spek en eiers. Op ons eindelose roete langs ‘n natuurreservaat of ‘n ding loop ons egter geen kroegerigheid of iets dergeliks raak nie.
Trouens, met moed wat al verder in ons skoene sak, dring die besef deur dat ons ons klaarblyklik in totaal winkellose sone bevind. Geen kafeetjie op die hoek eens waar ‘n polonie of ‘n vruggie aangeskaf kan word nie.
Ons beur teen die nat koue in al op ons spore terug na ons woonstelletjie, word op pad deur ‘n geniepsige bui oorval, en kom koud en bedremmeld tuis.
‘n Opname van te ete en drinke is ontmoedigend. Ons was die vorige aan by die Kersdiens in St. Martin’s in the Field langsaan die SA Huis by Charing Cross. In ‘n soort kelder-eetplek is agterna ‘n toebroodjie en sop genuttig. Een broodjie het oorgebly en is vir die wis en onwis saamgevat huis toe.
Enigste drank tot ons beskikking is so ‘n paar vinger jenewer in ‘n bottel wat onheilspellend suidwaarts sak. In die yskas is darem ‘n blik limonade.
Ons breek toe die toebroodjie in drie, deel die jenewer en limonade in drie en kry onsself diep jammer. Dit word ‘n lang dag. Eers op 26 Desember, Boxing Day, loop die busse en treine weer. Londen hier kom die Van Deventers!
(Vra hoekom ons nie ‘n taxi gevat het nie. Wel buiten dat ek gehoor het tariewe is Kersdag dubbeld, was daar ook die onverklaarbare bydraende faktor dat ons nergens een sonder passasiers teengekom het nie.)
In elk geval, my raad aan mense wat ore het om te voor: Dink mooi voordat julle vir Kersfees Londen toe gaan. Dink nog mooier voordat julle in St. John’s Wood gaan bly. Koop in hemelsnaam vir julle kos terwyl die winkels oop is en die wiele rol.
Moenie agterna by my kom huil as julle op die harde manier ontdek het die ou man praat die reine waarheid nie.
Deel dit: