Op die foto is ek en Johannes Froneman met sy nuutste boek.

Twee weke voor my 85ste maak ek kennis met ‘n inter-aktiewe handboek. Dis net QR-kodes van voor tot agter.

En raai, twee van die tot dusver raaiselagtige tweedimensionele kodes lei tot skrywes oor en deur my – ja, die nimlike. Ook maar mens, ook maar danig oor erkenning (helaas), maak ek die eerste keer in my lewe so ‘n kode oop – en slaan my hande saam. “Tokkie, kom kyk,” word my gade ook die nuwe wêreld ingenooi.
Die boek se naam is “Konstruktiewe joernalistiek vir vandag”. Dis die eerste Afrikaanse handboek vir joernalistiek in 43 jaar. Die skrywer is Johannes Froneman en die uitgewer Akademia. Johannes stop my ‘n geskenk-eksemplaar in die hand toe ons in Orca op Melkbos gaan seekos geniet om hom vir sy voorwoord tot my “Wag-‘n-bietjie” (Naledi, 2025) te bedank.
Die boek is propvol wetenswaardighede wat my dadelik boei, veral oor al die nuwe dinge aan die digitale front. Dit bevat ook terugblikke van waarde vir die student (dalk).
Op p. 36 loop ek ‘n QR-kode raak wat my laat blom. Die byskrif lui: “’n Gebore joernalis beskryf Hennie van Deventer die beste: van Volksbladbeursdae tot redakteur en hoof van Naspers se koerante. Ná aftrede het hy boeke, blogs en briewe geskryf – dikwels oor koerantmense en hul stories.” En jou wrintie, die QR-kode vat my woerts na ‘n skrywe op die webblad Mediamense.co.za met hierdie strekking. Laat my voel soos ‘n ontdekkingsreisiger.

Een van die QR-kodes wat my tone so laat krul het.

Op p. 89 is ‘n QR-kode wat lei tot my saluut aan Sapa in koerante by sy sluiting in 2015 ná 75 jare se parate diens. “Totsiens aan Sapa, troue nuusbron vir koerante”. Die skrywer noem dit ‘n “nostalgiese terugblik op die dae van die teleksmasjien, Sapa en die era toe nuus(kantore) nog deur tikgeluide en rook gevul was.” Mintag, toe lees ek ook weer lekker aan my eie skrywe!

Die vorige Afrikaanse handboek was “Joernalistiek vandag” wat deur (wyle) A.S. (Arrie) de Beer saamgestel is en in 1982 verskyn het. Ook daarin had ek ‘n bydrae, wat my een van die bloedmin lewendes maak wat wydsbeen oor die gapende kloof van vier dekades staan. Twee ander is Ton Vosloo en Ebbe Dommisse.
My bydrae was oor “Die nuusredakteur – spil waarom alles draai.” Ek lees dit met gespitste aandag. Ná 40 jaar het my insigte oor die onderwerp werklik weinig verander. Die nuusredakteur bly die spil. Sy dagboek bly sy Bybel, ensovoorts.
Froneman en De Beer, die handboekskrywers, was albei by Naspers en daarna hoogleraars in die joernalistiek aan die Potchefstroomse Universiteit in die stoel wat oud-Volksbladman GJ (Pine) Pienaar heel eerste beklee het. Eersgenoemde is ook stigter en kurator van die digitale mediamuseum Mediamense.com.

Deel dit: