Die lang somervakansie is met ons. Ons liewe dorp bars uit sy nate. Langs die lang strand, by restaurants in Kusweg, in winkels en in die kerk is dit weer vreemde registrasienommers en onbekende gesigte van oraloor. Op die sand wapper die nuwe strandsambrele in die wind.Melkbos lewe mos in die vakansietyd. Elke jaar by die Kersdiens vra die leraar besoekers om hand op te steek. Melkbossers skrik telkens oor die see van hande. Soms lyk dit amper of die “vreemdelinge aan ons poorte” in die meerderheid is.
Maar eintlk is ons gasvrye mense hier op ons bekoorlike woonplek aan die Atlantiese kus. Ons harte is oop vir die besoekers en ons knyp maar oë toe as hulle ‘n maand of wat ons plek binneval en oral oorvat.
Hierdie Melkbosser hoop die besoekers geniet die lang strandwandelinge, ons kleindorp-rustigheid , die goue skemers en die skilderkwas-sonsondergange wat hierdie tyd van die jaar op hul kwistigste is. ‘n Beter tyd vir ‘n vuurtjie en iets lekker op die kole kan daar nie wees nie.
Ek hoop hulle geniet die kom en gaan van mense en dinge op die strand: die vlieër-entoesiaste met hul kleurryke tuie, die bedrewe seilplankryers (veral as die suidooster opsteek), die vroegoggend-perderuitersEk hoop hulle geniet Tafelberg in sy vele stemminge, Robbeneiland in die verte.en die lekker geplaveide wandelpaadjie langs die see van Land’s End af verby die Melkbos Kitchen en die NSRI. Ook lekker rotspoeletjies daar waar kinders vir ure kan speel en klouter as hulle moeg raak vir Slabber se klippe in Kapteinsbaai.
Ek hoop hulle ontdek, benewens die skilderagtige Melkbos Kitchen, ook ander lekker kuierplekke in Kusweg aan die hoofstrand – veral Café Orca en die historiese Damhuis. Orca se viskos is ‘n moet, mits jy plek kan kry by die gewilde eetplek wat vir baie Kapenaars sinoniem met Melkbos geword het. Die porsies is gul soos Melkbossers se gasvryheid.
Ek hoop hulle ry die kuspad Blouberg toe en verken die bekoorlike baaitjies een vir een: Holbaai, Kreefbaai, Eerstesteen …. Plekke om rustig te sit en droom terwyl die branders aanrol.
Ek hoop hulle ry ook ‘n bietjie noordwaarts, loer by Ganzekraal in (in vakansietye ongelukkig ietwat oorbevolk) asook by die karaktervolle vakansiedorp Yzerfontein. Dan is Darling net ‘n klipgooi binneland toe.
Langebaan is net sowat 100 km van Melkbos af – ‘n moeitewerd-mekka met sy reuse-strandmeer. Voor Langebaan lê die Weskuspark met sy fynbos-verskeidenheid, gesellige braaiplekke en amper onherbergsame kustonele.
Die uwe hoop die Melkbos-besoekers ontdek op hul drumpel die eersteklas-wyne en wonderlike kelders van die Durbanville-wynroete. Klein Roosboom is ‘n persoonlike gunsteling. Nitida se restaurant lok smulpape. Die moderne Durbanville Hills se uitsigte en sy sauvignon blanc is ewe voortreflik.
Vir uitsigte: Probeer gerus ook Grootbaai se Spur en Cape Town Fish Market. Lyk of Tafelberg oor die baai al hoe nader skuif terwyl jy jou geelbek of T-been geniet. Haal sommer die MyCitibus daarheen – jy kry die panoramas van berg en see op die koop toe.
Aan die fraaie Kleinbaai, ‘n klein entjie aan, kry jy die restaurante On The Rocks en Ons Huisie. Peusel calamari terwyl jy onder ‘n strandsambreel ‘n koue wittetjie van hierdie kontrei op die tong neem
Vir ‘n smaaklike, outydse ontbyt is Philadelphia se Pepper Tree ‘n prima-keuse. Die dorpie, net 17 km van Melkbos op die pad na Malmesbury (N7), raak ‘n regte toeristetrekpleister met sy knusse winkeltjies en allerlei. Die historiese ou kerk is ‘n besienswaardigheid (soos Mamre se orrel, vir diegene wat in sulke dinge behae het).
Nog nader is die Padstal by die Total-dienssstasie op die Weskuspad (R27). Vele verrassings op jou voorstoep – onder meer die varsste plaasbrood warm uit die oond.
Vir die herlaai van geestelike batterye staan die NGK Melkbos se deure oop. Sondae se erediens is om 09:00. Op Kersdag is twee dienste, om 07:30 en 09:00. Die Oujaarsaand-diens is om 18:30.
Ek (wat natuurlik bevooroordeeld is) glo jy kan op Melkbos en omgewing so lekker kuier dat die Kaap self maar aan sy eie hordes oorgelaat kan word. Te veel vir een vakansie? Nou-ja. Kom dan maar weer!
(Ietwat aangepaste weergawe van ‘n blog wat ek in 2020 geskryf het.)