’

Clarence en sy vrou
Die ouer garde sal Clarence Keyter onthou as die TV-man wat eenvoudig moes bly praat en praat terwyl die volk angstig op 11 Februarie 1990 op die vrylating van Nelson Mandela uit die tronk wag en Winnie Mandela om bisarrie redes verrigtinge vertraag. Het die man die middag bitter jammer gekry.
Ek onthou die wellewende omroeper – pas oorlede – ook as
’n verre gespreksgenoot – in ‘n onheuglike eie ervaring waarin die Mandelafaktor ook sentraal was. My herinnering is aan ’n TV-nuusprogram wat op Sondagaand 19 Augustus 1990 op SABC uitgesaai is. Mandela was in gesprek met drie joernaliste, Tertius Myburgh van die Sunday Times, Thami Mazwai van die Sowetan en Van Deventer van Die Volksblad.
’n Komplikasie vir laasgenoemde was dat die ander almal in ’n ateljee in Johannesburg was; hy op sy eentjie in die verre Bloemfontein. Hy moes die hele tyd stip in die oog van ’n kamera op ’n driepoot bly staar.
’n Verdere struikelblok was dat die aanbieder, die nimlike Clarence Keyter, en die welsprekende Myburgh daardie aand spraaksamer was as ooit. Mazwai kon nog hier en daar ’n woord inkry; Van Deventer in Bloemfontein is eenvoudig doodgepraat, wat nogal ongewoon is!
Selfs die Vrye Weekblad het Keyter onder skoot gekry oor die “uiters stief” behandeling wat my te beurt geval het. Charlotte Bauer het in haar TV-rubriek in die Weekend Mail geskryf my “bulk was beamed up from Bloemfontein and projected onto a large screen where it hovered, Oz-like, above chairman Keyter’s head.”
Gelukkig het ek die dag ná die embarraserende opname oorsee vertrek. Ek was verneder genoeg – wie sou nog ’n tweede marteling wou verduur om magteloos na daardie swygende “Oz-like” beeld te sit en kyk
Me. Bauer het darem ’n bietjie salf aan die wonde gesmeer: “The most important question of the night was asked by the television-image-within-an-image of Van Deventer.” Volgens haar “Mandela had given out all sorts of hopeful messages for the future, but Die Volksblad’s editor was not to be consoled: ‘Mr Mandela, does the ANC possess the communication channels and the discipline to get all these messages through to the people on the ground?’”
Sy skryf sy kan nie die antwoord onthou nie, omdat die vraag ’n rilling langs haar ruggraat afgestuur het.
Mandela het bra korte mette van die vragie gemaak, onthou ek wel: Voldoende kommunikasiekanale en dissipline, ag kom nou, mnr. Van Deventer!
Van die “Oz” op die jas: Ek skryf oor die vreemde onderhoud in Wag-‘n-.bietjie (Naledi, 2025). Die boek is wyd by boekhandels beskikbaar. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by https:naledi.co.za/product/wag-n-bietjie of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.
Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is