Die pasiënt lyk vaag bekend toe hulle hom, taamlik verwese en met ‘n stapel papiere vasgeklem in sy be-aarde hand, in ‘n rolstoel by die hospitaal se afdeling patologie instoot.
Ek knoop ‘n geselsie aan en hy bevestig my vermoede: Hy is “Die Afrikaner”.
Sy tong hang behoorlik uit, deel hy my mee. Elke spesialis van elke dissipline was die laaste ruk oor hom (soos ‘n vorige generasie mos gepraat het). Brein, hart, longe, niere, dikderm, spiermassa – niks ontsnap die intense aandag van die deskundiges nie
Hy was al in die teater vir ‘n reeks biopsies, by die X-strale, by elke denkbare skandeermasjien – selfs by die gastroloog en dieetkundige. Nou is hy met die spul papiere hierheen gestuur. Kyk, oral is net regmerkies. Daar is geen bloedafwyking aan die wetenskap bekend nie of hy moet daarvoor getoets word.
Dat iets met hom skort – dit het hy nou al uit vele monde met groot erns verneem. Maar wat presies? Elke dokter het sy of haar eie teorie en verkondig dit met breedsprakerige vertroue as die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie. Soveel ghoeroes, soveel diagnoses. Ai tog.
Op daardie oomblik verskyn ‘n suster met ‘n spuitnaald en wink dat hy nader gebring word met die oog op die verdere ontledings wat wag. Arme ou. Ek voel die deernis in my opwel toe hy kopskuddend agter die gordyn verdwyn.
Om darem dag vir dag so van kop tot tone onder die vergrootglas te kom, moet die liggaam en die gees uitermate vermoei. Om uit soveel oorde soveel oordele te moet verneem oor wat alles aan jou onwel is, moet elke sterfling diep beproef.
Raai, vir my lyk hy toe nie eens so verskriklik siek soos hulle maak nie. Duidelik ge-stres is hy oor al die “uitdagings” (moderne kodewoord vir hengse probleme) op sy pad), maar darem nie so vol bose kwale dat dit hom so ‘n uniek jammerlike wese maak, soos sommige verkondig nie.
Dis nou maar my beskeie straaltjie. Maar nou-ja, laat ek bieg dat ek geen ekspert van enige aard is nie, en dat die kort geselsie daar in die wagkamer boonop by my nogal ‘n affiniteit vir die ou bokker gekweek het. Ek is dus nie onbevooroordeeld nie.
Sterkte, mnr. Afrikaner, vir die spul bloedtoetse. Hoop hulle kry genoeg are om bloed uit te tap. Maar moet nou darem ook nie te veel “worry” oor die uitslae nie, wat.

Deel dit: