Lankal het die nuuskierigheid my beet oor wat op jou wag as jy die Van Schoorsdrift-omrit van die N7 neem – daar by die brugbouery in die omgewing van Potsdam en Vissershok en net enkele kilometer van die Melkbosstrand-afrit. Vanmiddag het ek gaan verken.Die omvang van die padbouery tref die oningewyde onverwags. Op die nuwe pad van vyf kilometer wat die ou Vissershokpad nuwe lewe gaan gee, verrys vyf massiewe brûe, een oor die N7 en oor Dieprivier. Uiteindelik gaan die Vissershokpad aansluit by ‘n nuwe pad wat nog gebou moet word met die fensie naam Berkshire Boulevard. Dit gaan geskied op ‘n punt net wes van die Malanshoogtepad / Contermanskloofpad om die Weskus en Durbanville te verbind. Die spulletjie gaan ‘n mooie R780 miljoen kos.
Die mense mik glo om die pad in die eerste kwartaal van 2027 oop te stel. Vir hierdie leek lyk die projeksie optimisties. Die werk aan die brûe is ver gevorder, maar die aarde daaromheen lyk of ‘n ruimteskip van ‘n ander planeet af daar neergeploeg het. My keel sou toegetrek het as ek die voorman was en orde uit die chaos moes skep.

Eindelik het my verkenningsrit nêrens heen gelei nie; het liewer omgedraai toe dit te leeg en woes om my begin lyk. Maar dan weet ek darem ook nou ‘n paar dinge wat ek nie voorheen geweet het nie, soos waar die ingange van die groot volstruisplaas en van die Morningside-lughawe is.
Die bloekomboomlaning op die pad steek die een naby Melkbos op die verbindingspad met die N7 maklik die loef af. Trouens, soveel bloekombome op ‘n kol tref ‘n mens seker nêrens elders in die Kaap aan nie.
Verskuil tussen die bloekoms ontdek ek toe die yslike Zone 7-motorfietsrenbaan. Nooit besef hoeveel mense sak op ‘n Sondagmiddag met hul tweewiel-gevaartes op so ‘n baan toe nie. Lyk na ‘n gekuier van die eerste water (met ietsie sterker by vir die ergste dors).