Toe pa en ma begin aanstap in jare besluit die kinders ‘n spesiale koeltetjie moet geskep word vir die assies eendag. Hulle plant ‘n drolpeer – tog so feestelik getooi in die lente.Drolpeer vrek. Hulle vervang dit met ‘n blinkblaar-wag-‘n-bietjie. Dié gedy.
Sweerlik pa se dinge, praat hulle onder mekaar.Dis hy wat die boom tot sy dood toe verwens het omdat hy nie onder ‘n drolpeer wou rus nie. Vir ‘n wag-‘n-bietjie – daarvoor het hy kans gesien.
Die storie van die drolpeer en die wag-‘n-bietjie is een uit ‘n ryke oes. Almal het my bereik nadat Wag-’n-bietjie (Naledi, 2025) klaar op die rak was. Gaan mos maar so. As dit te laat is, hoor jy die mooiste stories.
Verskeie wag-‘n-bietjiestorie wat nou by my uitkom, het ‘n konneksie met die weer. Hy’s immuun teen weerlig, lui een. Staan onder hom en jy is veilig. Moenie hom in die somer afkap nie, glo ander – dan lok jy sweerlik droogte, weerlig of hael.
Ook ‘n stukkie filosofie verneem ek: die boom verteenwoordig die lewe soos ons hom ken. Die sigsag-patroon van die jong takkies wys die lewe is nie altyd ‘n reguit pad nie. Die plasing van die dorings is ook betekenisvol. Een kyk agtertoe, na die verlede. Die ander kyk vorentoe – na waarheen ons op pad is.
In meer as een kultuur het die wag-’n-bietjie ’n spesiale status. So glo die Zoeloes ’n takkie van die boom op die sitplek langs jou is noodsaaklik om ’n afgestorwene se gees te gaan haal. Die nimlike tak word saam begrawe om die dooie te beskerm. Op die grafte van “hoofmanne” word jong bome geplant.
Sy medisinale gebruike is legio: hy’s die ware jakob vir alle maagmoleste, borsaandoenings, wonde en swere, meen diegene wat weet.
Kerkman Nico Smith het glo ‘n interessante proefneming gedoen. Hy twee wag-‘n bietjies in sy tuin in Mamelodi by Pretoria geplant. Met die een was hy in gedurige gesprek en het hy geprys omdat hy so mooi groei. Die ander een het hy veronagsaam. Raai watter een het uitgestyg.
In my boek verduidelik ek hoekom my boek sy naam by die boom gaan gaps het. Dis stories oor die kleinkinders se kennismaking met sy geniepsige dorings. Ook oor Tokkie se ervaring; ek sien nou nog hoe die bloed loop.
Dis mos ‘n storieboom sonder weerga.
* Wag-‘n-bietjie sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.