Met die verkiesing van kleinseun Thomas Claassens tot primarius van die Matiekoshuis Eendrag gisteraand word my gedagtes ver-ver teruggevoer tot ‘n aand in 1961 toe ‘n eenderse eer sy oupa Hennie te beurt geval het. Ek het daardie aand primarius (huisvoorsitter) van Tukkies se Kollegtehuis vir 1962 geword.
Ek kan sien hoe straal Thomas van die trots. Oupa se hermpsknope kon ook daardie aand spat. ‘n Groepie vriende is dadelik met my Peugeot 203 (1953-model) padkafee toe om sy verkiesing met ‘n melkskommel te vier. Sal liewer nie vra hoe so iets nou, ses dekades later, gevier word nie. Wat ek wel weet, is hoe ek dit vanaand in Sabiepark gaan vier,Op die foto links is Thomas en vise-primarius Taro Samuelson. Regs is Kollege se HK van 1962. Agter staan Arend de Waal, Naas du Toit, Piet Theron en Johan de Jager (Jan-Jakob). Sittende is Oom Chris de Wet (huisvader), Hennie Smit, ekke en Pierre le Roux, my adjunk.
Net ek, Pierre en Piet leef nog. Die foto is dowwerig. Rede: dis agter glas. Hang in my studeerkamer op Melkbos.