Dit is nie ‘n kleed wat ek afgooi nie … dit is lewende vlees wat ek van my afskeur. Dit was die onvergeetlike woorde van Schalk Pienaar waarmee hy sy ontnugtering, pyn, verslaenheid en wrewel verwoord het met die “samesmyting”(ook sy woord) van die Sondagkoerant Die Beeld en Dagbreek in 1970.Barnard Beukman, laaste redakteur van die dagblad Beeld, sal seker van soortgelyke emosies kan getuig oor die “wegraping”(Lizette Rabe se woord) van sy koerant in sy 50ste jubileumjaar weens bestuursinsigte waaroor ek my nie nou weer wil uitlaat nie om my bloeddruk onder beheer te hou.
Presies hoe hy gevoel het, sal ons kan lees in sy boek “Die (vreemde) einde van ‘n koerant” wat eersdaags by Naledi verskyn. Ek brand om die boek te lees om die storie agter die storie van hierdie onheuglike geskiedenis eerstehands te verneem.
Ook uit hierdie koerantman se pen verskyn eersdaags by Naledi ‘n nuwe boek. Die titel is “Wag-‘n-bietjie”. Grepe uit my koeranteloopbaan – van politiek tot moorde – word daarin vertel, ook stories oor mense, die bos, Melkbos en die kerk.Natuurlik skryf ek ook oor die verdwyning van Beeld. As eerste nuusredakteur het ek reeds in April 1974 my Beeldmantel omgehang. Ek is dus loshande die oudste lewende redaksielid van daardie geliefde koerant. Die ou veteraan rou intens.
Twee oud-koerantmanne uit die Nasionale Pers-stal publiseer binne ‘n maand boeke by die onafhanklike Naledi. Ek kan dink dat sommige mense dit nogal interessant sal vind.
Ek wonder of Barnard dit nog sal onthou dat hy in 1999 vir Rapport ‘n resensie geskryf het oor my destydse boek “Kroniek van ‘n koerantman” – die storie van my redakteursera by Die Volksblad in die onstuimige 80’s. Sy bevinding was dat ek nie doekies omdraai nie. Ek glo ‘n mens sal dieselfde van sy boek kan sê.
NASKRIF: Albei die boeke sal teen Augustus/September in boekwinkels beskikbaar wees of kan bestel word by Naledi se uiters doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616).