O, om weer in Sabiepark te wees na ‘n jaar se afwesigheid,  elke aand vuurtjie te maak, van die stoep die visarend klokhelder van die rivier se kant te hoor roep en nektar-ekspedisies van ‘n verskeidenheid  gevleueldes by die aalwyne (nog redelik in die blom) op die kamera te probeer vasvang.

Alles is so heerlik bekend en tegelyk nuut: die sebras wat in die watergat kom drink; die nagapies se woerts-wartse elke aand in die verweerde ou pendoring (nog meer verweer as tevore); die vorstelike bloukuifloeries in manjifieke vlug heen en weer tussen die knoppiesdorings, maroelas en die watergat; die sestal njala-ooitjies wat lank rustig om die huis wei; die skugter bosbokkies; die kleinste klein duikertjie.

Vanjaar is hier weer vlakvarke in die park, sommer ‘n stewige span.  Dadelik is hulle van die gereeldste besoekers.  Welkom, julle. Op die pad piekniekplek toe versper kameelperde onversteurbaar die pad in Wildevylaan.  By die piekniekplek mis ons ‘n luiperd twee keer net-net.  Organ wys en beduie.  Vergeefs. Wat is nuut?

Twee hiënas loop rond met strikke om die nek en kla oorverdowend.  ‘n Nagtelike ekspedisie word onderneem om hulle te probeer vang en verdoof met die oog op bevryding.   Om hulle te lok, word ‘n vangs gesimuleer. Die sterwenskrete van ‘n bok oorheers die naggeluide ure aaneen. Dis minder aangenaam.

By die huis, ons Tarlehoet, blom die impalalelies by die voordeur soos nog nooit.  Al is hulle jonk en kleinerig en beskeie teenoor Ou Menere elders, verbly hulle die Van Deventer-hart. Hulle en die aalwyne vorm ons eie “welkom-matjie” by die voordeur.  Kom nader, kom nader, is hul boodskap vir besoekers (selfs ook ‘n windskewe een wat half weggegooi is).

In die kantoor is die vriendelike en behulpsame  Lounette   op haar pos.  ‘n Braaier-teenspoed word vinnig deur Jandré, haar man,  en sy span uitgesorteer.  Maar dit is ‘n storie –‘n mooie – vir later. Hou maar die spasie geduldig dop.

Patson, Lucy en die manne by die hek, Abby, Thopela en Tyler lyk bly om ons oues te sien.  Ook Alfred, Sipho en die vlytige George van Mkuhlu. ‘n man met ‘n plan vir alles. Die gevoel van bly weersiens is wederkerig.

Heerlik was dit om ‘n paar dae met die span Claassens te kuier –  selfs deur die volledige span op die lughawetjie by Skukuza ingewag te word.  Daarna was dit dadelik restaurant toe, want  Marisa het verjaar.  Saans het die vure hoog gebrand.

Aangenaam soos altyd was dit om saam met die borrelende Frances Hoexter ‘n laatmiddag-wyntjie onder ‘n worsboom by die piekniekplek te geniet, ook seer aangenaam om in Jakkalsbessie 132 by ‘n gourmet-ete aan te sit; galante gashere : Mrad (hoogleraar in ekonomie) en Inge Shahia.  Tokkie en Mrad was in 1962 dubbelspel-tennismaats op skool op Bultfontein.

Wie loop ek by die kiosk raak?  Prof. Ronald Dulek van  diep-diep in Amerika wat jare gelede hier huis gekoop het sonder om ooit voorheen ‘n voet hier te sit.  Sy spitsvondige boek oor sy bos –ontdekking (Sitting with elephants) is ‘n gunsteling op my Tarlehoetrak. ‘n Nuwe is op pad, verklap hy – en ek gaan een present kry.  Nie vergeet nie, Robert.

Ek groet vir Claude Martin, Christopher se groot pêl, toe hy 10 jaar gelede as vyfjarige buksie ‘n alleenvakansie saam met oupa en ouma hier kom deurbring het.  Nou toring hy bo ons almal uit en ry vreesloos bergfiets.  Tyd vlieg.

Ek sien ook vir Jannie Mouton en gesels nostalgies oor toeka se dae toe pa, wyle Kapous,  en ma, wyle Leonora, van ons grootste Sabieparkmaats was en ons met die blou Bosbus –kombi Sondae kerk toe is.  Goeie ou dae.

In die lapa is genoeg hout afgelewer.  Dit staan hoog opgestapel. Op 84 wil ek nie meer skrik as iemand nog ‘n hout of twee  op die vuur wil gooi nie.

Die gapende swembad – leeg en droog – laat blyk dat groot verfwerk op pad is.  ‘n Bosvakansie is nie net pret en speel nie.

Deel dit: