
Louis se 59ste. By hom is pa, Frik, en ma, Martie.
As daar ooit ‘n man uit een stuk was, was dit my goeie vriend Frik Nel (87) wat vanoggend in die hospitaal in Montana, Pretoria, oorlede is nadat n griepvirús sy hart aangetas het. Sy toegewyde vaderskap vir sy seun Louis (60) wat weens ‘n besering by sy geboorte spasties gelaat is, was veral vir al sy vriende – en daar is baie – altyd inspirerend.
Terwyl ek hier skryf, sien ek in my verbeelding vir die lenige Frik met Louis aan die arm oor die piekniekplek se gras aangestap kom. Pa en seun so saam was een van die bekende en geliefde gesigte van Sabiepark. Hoe dikwels het ek dit nie beleef nie, ook toe stygende jare dit vir Frik al ‘n toenemende uitdaging begin maak het om Louis orent te hou en self ook orent te bly. Dis sleg om te weet ek sal die twee nooit so weer sien nie.
Op 27 Junie 2023 was ek en Tokkie bevoorreg om by die gasvrye Frik en Martie se boshuis in Sabiepark by Jakkalsbessielaan die 59ste verjaardag van Louis, hul oudste, by te woon. By vrolike ballonne op die stoep het ons verjaardagkoek, koesisters en heerlike vleispasteitjies saam met die verjaardagman en sy ouers geniet terwyl bosgeluide om ons opklink.
Hoe gelukkig Sabiepark hom maak, is altyd op die blymoedige en altyd so dankbare Louis se gelaat te lees. Hierdie keer het hy des te meer van vreugde gestraal. Maar op sy 61ste sal sy pa – ‘n oud-brigadier in die veiligheidspolisie – nie daar wees om hom te ondersteun nie. Of Louis ooit weer daar sal kan kom, is ‘n vraag.
Ná die verjaardag het ek vir die twee toegewyde staatmakers Frik en Martie geskryf: “Ons kan maar net daarna streef om soos julle te wees – al skiet ons telkens te kort weens ongeduld, eie gerief, of wat ook al. Dankie, hoor.”
Dit is ‘n sentiment wat ‘n lang pad kom, want ons het die Nels ‘n kwarteeu gelede in Sabiepark leer ken saam met Louis en ook saam met Frederik, ‘n dapper kleinseun wat in sy jong lewe deur diep waters is, met meer as 15 operasies aan sy skedel op sy kerfstok.
‘n Toestand soortgelyk aan marmerbeensiekte, wat veroorsaak het dat sy skedelbeen te vinnig groei en dan drukking op sy brein veroorsaak het, het uiteindelik op sy 16de verjaardag onverwags skielik sy dood veroorsaak.
In Sabiepark was Frik en Martie se kleinkinders in hul kinderjare ou bekendes. Hulle het gereeld saamgekom. Die liefde wat hul oupa en ouma op hul oom Louis uitgestort het, het hulle ook op hulle uitgestort, op Frederik, Clarise, sy tweelingsuster, en Schalk, die kinders van hul jonger seun, Marius.
Die kinders was skoon begeesterd oor die plek. Vir Frederik was Sabiepark, in sy eie woorde, baie lief omdat dit hom die geleentheid gegee het om homself uit te leef in sy stokperdjie, skilder, sy gesin en die natuur “wat Jesus vir ons gegee het”. Ek glo hy is dood met wonderlike herinneringe aan Sabiepark – en nog wonderliker herinneringe aan sy oupa en ouma – in sy hart.
Watter goeie mense tref ‘n mens darem nie op hierdie ou aarde aan nie!
ONS GROET ‘n HEGTE SABIEPARKVRIEND
Dat ons nooit weer saam met Frik Nel in Sabiepark se piekniekplek ‘n laatmiddag-glasie sal klink nie, nooit weer saam om ‘n vuurtjie sal sit nie en nooit weer saam ‘n draai in die Krugerwildtuin sal ry nie, is ‘n sware gedagte. So kom en gaan die eras.Frik en Martie en die Van Deventers was gelyktydige inkommers in Sabiepark sowat ‘n kwarteeu gelede. Dadelik is ‘n hegte vriendskapsband gesmee. Ons het mekaar se kinders en kleinkinders leer ken. Ons het ons besoeke so probeer skeduleer dat dit saamval. Ons het probleme gedeel en mekaar oor en weer raadgegee en bemoedig. Ons het saam kerk toe gegaan in Skukuza. Ons het gekuier. Vir ons was die Nels part en deel van die Sabieparkervaring en andersom.
Vanoggend vroeg is Frik in die hospitaal in Montana, Pretoria, oorlede. ‘n Griepvirus het eers sy niere aangetas en toe sy hart. Hy ws 87 en ‘n oud-brigadier in die veiligheidspolisie in ‘n onstuimige era.
Ons harte gaan uit na Martie, Marius en Louis, Clarise en Schalk.
FOTO: Die Van Deventers en Nels saam langs die Sabierivier in Sabiepark se piekniekplek.