Hier dan: Hamlet met die prins(e). Die uwe en ouma Tokkie saam met Thomas (links) en Jacob . Agter ons is Simonsberg. Kyk hoe trots is ons twee oues! Op die onderste foto is ons saam met die hele Claassens-span: ook Brent, Marisa en Christopher. Vir die boonste foto dank ons Chrstopher en vir die onderste Danielle Claassen (sonder die s).

 

 

 

 

 

Lustig is das studenteleben, faria, faria, ho. So het ons 60 jaar gelede in Kollegetehuis op Tukkies gesing. Lustiger kan die studenteleben beswaarlik wees as by Saterdagaand se sprankelende 21-fees van kleinseuns Jacob en Thomas Claassens by die boetiek-wynlandgoed Alluvia op Helshoogte, Stellenbosch. ‘n Fees was dit van heerlike wyn en pizza (Italiaanse styl), kameraderie, vrolikheid, pret, welsprekendheid, pittigheid en wat nog, Oupa en ouma Hennie en Tokkie was bevoorregte toeskouers/deelnemers. Uiters genotvolle aand gewees. Het ons self sommer weer jonk laat voel.

In daardie kleurryke 21 word die storie van kleinseuns Jacob en Thomas se Claassens se grootword vertel. Dit is die etiket op die agterkant van die magnumbottels rooiwyn wat hul oom en tannie Johan en Mariza van Deventer en neef Migael vir hul 21ste van Oudtshoorn af Kaap toe laat koerier het. Ek tel sowat 30 foto’tjies in die ontwerp deur Hilde. Op die voorkant van die magnums / magnumme / magni is etikette met die twee se name en foto’s. Hulle glimlag breed oor hierdie spesiale geskenk.

OM VIER KEER MONDIG TE RAAK

Dit tref skielik dat ons kleinseuns Jacob en Thomas Claasens 21 word in die jaar dat my 84ste gevier is – vier 21’s as’t ware. Kyk ek terug op elk van die kwarte en op die geheel van 84 is dit met enorme dankbaarheid.
Nie as ‘n soort bloudruk of model vir enigiemand nie – net vir interessantheid – het ek die vernaamste bakens in elkeen van my vier skofte probeer identifiseer.
Dit bewys een ding onteenseglik: dat altyd nuwe dinge met ‘n mens gebeur – tot op jou oudag.
Natuurlik neem elke mens sy lewe sy eie verloop. Nie almal se bakens sal ooreenstem nie – party s’n sal selfs ingrypend verskil. Een beleef meer voorspoed en ‘n ander minder. Niemand se lewe gaan staan egter stil terwyl hy / sy nog lewe nie. Dinge bly egter gebeur.
So lyk my eie prentjie vir my:
Eerste 21 (1941 tot 1962): Skool (Volkies op Potchefstroom) en universiteit (Tukkies). Sport: Rugby, krieket en atletiek. Eerste motor: gebruikte 1953-model Peugeot 203.
Tweede 21 (1962 tot 1983): Begin loopbaan, trou, laat bou ons eerste huis in Bloemfontein, word pa, woon ses jaar in Johannesburg (Beeld), geniet rusjaar in Amerika en word redakteur (Die Volksblad) – my groot ambisie.
Derde 21 (1983 tot 2004): Kom Kaap toe as uitvoerende hoof: koerante, publiseer eerste boeke, tree af, word Melkbosser en Sabieparker (baie lief vir albei). Verruil laaste van drie Mercedesse vir die Honda.
Vierde 21 (2004 – 2025): Word vier kleinkinders ryker, onderneem ’n stuk of 12 bootvaarte, skryf dosyne briewe aan koerante en my laaste klompie boeke, waaronder die allerlaaste, Water wat verby is, einde 2024.
Onder die bakens in die vierde skof wat vir my – en vanselfsprekend eweseer vir Tokkie – uitstaan, is die geboorte van die eerste kleinkinders, en toe boonop ‘n tweeling. Die vreugde wat hulle twee in ons lewens gebring het, is werklik ‘n hoogtepunt vir ons albei.

 

 

Deel dit: