
Die storie van 21 wonderlike jare word hier in een (saamgestelde) foto vertel. Ons oudste kleinkinders, die tweeling, Jacob en Thomas Claassens vier vandag, Saterdag 26 April, hul mondigwording.
Op die foto bo regs is hulle op hul eerste besoek by die naambord van Tarlehoet, ons geliefde boshuis in Sabiepark, Mpumalanga. Hulle was toe skaars ‘n jaar oud. Pappa en mamma was darem toe nog by. Onder regs is hulle al opgeskote seuns. Dit was al hul soveelste alleenkuier. Links is verlede jaar se foto. Hulle is hier al 20. (In die middel is kleinboet – kleinboet! – Christopher). Die eerste keer toe Jacob en Thomas alleen saam met ons bos toe is, was hulle driejarige pokkeltjies. Dit was die begin van ‘n onvergeetlike tradisie.
As ek en Tokkie vandag ons gedagtes laat gaan oor die vreugdes van die 21 jaar staan die naam van Sabiepark sentraal. Daar aan die Sabierivier, knus by die Krugerhek van die wildtuin, het ons en die seuns van ons heerlikste tye saam deurgebring.
Hoeveel vakansies altesaam? Het nie getel nie. Kom ons hou dit maar by 20, maar dit was meer. Dankie, jong manne, vir hoe julle ons harte daar oor al die jare verbly het.
Foto 2 is van die voorblad van ‘n informele boekie oor ons eerste nege boskuiers. Die 143 A4-bladsye is ‘n kroniek van die lief en leed van elke kuier, kompleet met ‘n klomp foto’s.
Die boek handel primêr oor die kinders se inwyding in die bos-kultuur. Dit is sekondêr ‘n kleinkind-storie – Oupa Hennie en Ouma Tokkie se inwyding in die oupa- en ouma-kultuur.
Die “kampvuurtjies” en “karnallies” in die titel spreek seker vir sigself. Hier is die verklaring vir die “k..k.. karnivore”:
Ons het aanvanklik vir die vyf of ses weke van ‘n vakansie ‘n enkelbedjie uit die buitekamer ingedra, styf teenaan die dubbelbed gestoot, en soos sardientjies langs mekaar geslaap. Die twee seuntjies het elke aand posisies geruil. Toe hulle ses was, het hulle die betrokke aand hul gewone gebedjies gebid en toe aangekondig dat hulle nog wil bid. In die “nog bid” val die klem, soos dit hoort, op hul eie grootste belewenisse en voorkeure.
Ouma het die gebedjie so opgeteken: “Dankie, liewe Jesus, vir al die diertjies wat ons hier in Sabiepark kon sien. Dankie vir die bome en dierespore. Dankie vir die aandstêr en die volmaan. Dankie, liewe Jesus, vir die … Ouma, wat is die naam nou weer wat met ‘n k begin? …. k..k.. karnivore! Dankie vir al die karnivore. Dankie dat die sebras hier op ons erf kom slaap het. Dankie vir al die poef wat hier in Sabiepark is. Dat ons sebrapoef kon optel en op Ouma se appelblaar kon gooi dat hy nou so mooi kan groei. Dankie vir al die voëls wat ons leer ken het. Amen.”
Oupa en Ouma Hennie en Tokkie het vandag ook ‘n gebedjie. Ons betuig aan die Here ons tienvoudige dank vir twee sulke jong sierade. Ons kyk terug en ons is verheug oor al die heerlike saamkuiers, al hul prestasies aan vele fronte en sommer hul besonderse menswees in die algemeen wat ons trots en gelukkig maak. Ons kyk vorentoe met afwagting en vertroue en ons bid dat die meetsnoere vorentoe steeds vir hulle op lieflike plekke sal bly val. Amen.