Vra my wat ek en rugbyhelde soos Siya Kolisi en Peter-Steph du Toit gemeen het, en die antwoord is ongelukkig nie my kranige spel op die rugbyveld nie. My nederige beste poging was vir my koshuisspan in die derdeliga in Pretoria.
Die gemeenskaplikheid, dames en here, is dat my wankelrige knie ook die deurlugtige aandag van wyle dr. Willem van der Merwe (foto) geniet het. Vir die doel is ek na die Sportinstituut se geriewe naas Nuweland in Kaapstad. Dit was vyftien jaar gelede.
Die briljante dr. Willem – oud-Grey, oud-Kovsie en oud-nelbouler van die Vrystaat in my Volksbladjare – het toetse gedoen en met ’n indrukwekkende masjien foto’s geneem. Sy bevinding was goeie nuus vir die bekommerde Melkbosser wat reeds in daardie stadium vir ‘n heupvervanging geskeduleer was. Twee ingrepe in een been sou dik vir ‘n daalder wees.
Maar dis juis die heup wat my storie ‘n kinkel gee. My vervanging sou geskied met die Franse Amis-tegniek (Anterior Minimally Invasive Surgery). Dr. Van der Merwe was hoogs geïnteresseerd en ek het geesdriftig uitgewei: die snit is maar 6 tot 8 cm; jou spiere rondom die heupgewrig bly almal behoue; bloeding is minder; pyn is skaars ter sprake; herstel is 50 persent vinniger.
Nee wat, sê hy eindelik, hy glo maar aan die tradisionele manier – en net daar maak hy sy gordel los, laat sak sy broek en wys my sy lang wond. Só, se hy. Só word dit gedoen. (Wonder, terloops. of Siya en Pieter-Steph hul wonderdokter ooit so in sy onderbroek gesien net.)
Ten slotte: vir wat dr. Willem met daardie manne se erg gekrokte knieë vermag het, hulde aan hom. Onteenseglik was hy ‘n yster. Van die Amistegniek bly ek egter steeds ‘n ambassadeur.
Die eerste dag al is ek op krukke die hospitaalgang af. Die vierde oggend hoor ek die blye nuus: Jy kan maar huis toe gaan. Presies drie weke nadat ek klappertand in my ontblotende teaterjurkie in ‘n smal hospitaalbedjie op pad na die teater was, het ek op eie stoom by die Panorama Medi-Clinic ingestap vir die opvolgbesoek aan die ortopeed – sonder krukke.
Ek het uitgestap met ‘n regmerkie by elke vraag op die lysie in my binnesak. Ja, ek mag weer motor bestuur, op die strand gaan stap, op ‘n sagte stoel sit, voete kruis, bad, in my nomale posisie slaap, buk om iets op te tel en my eie sokkies optrek. Dadelik. Verbasend maar waar.
Dankie van harte, dr. Jan Joubert.
(Dr. Van der Merwe is op 64 aan slukdermkanker oorlede.)