
Ollie op dreef op ‘n afskeid vir joernalis Aat Kaptein (regs). Kyk uit vir ‘n jong Bart Zaaiman.
‘n Keer is prima ballerina Margot Fonteyn ná ‘n opvoering in die Bloemfonteinse stadsaal onder blomme toegegooi. ‘n Kort eenreëlkop (opskrif) is vir ‘n voorblad-stoepberig vereis. Ollie se skepping: “‘n Blom-Fonteyn”.(‘n Stoep was die storie onderaan die blad.)
Niemand het ‘n beter kop gehad as die woordsmid sonder weerga as dit kom by die die skryf van kort, kernagtige en gevatte koppe nie … of, soos ‘n ander kollega dit gestel het, sonder veel kopkrap kon hy skitterende koppe skryf.
Ollie was ook die koerant se eie “kabaretster”, die siel van afskeide en diverse okkasies met gevatte rympies en liedjies wat hy spontaan kon optower. Sy “Die siel van die mier is nou hier” het ‘n soort legendestatus by tydgenote verwerf. Toe hy Kaap toe is het hy almal verstom deur sy hele afskeidstoespraak van ‘n rol telekspapier af te sing.

Subkantoor; ek en Ollie op ons poste.
Van die verre herinneringe wat opgediep is by ‘n Volksblad-fees op Melkbos in Desember was van liedjies wat in die aanbreekjare van die 60’s in die subkantoor gebore is. Een waarvoor ek na al die dekades steeds ‘n besonderse affiniteit het, is die Siek-liedjie van Ollie en Paul Marais op die meesleurende wysie van ”Somewhere in France with You” – beginnende by “Her two blue eyes, two blue eyes. keep smiling at me …”
Dis ‘n muishond met ‘n vleiswond / En psigosikose
Dis ‘n bloedhond met ‘n bloedklont / En koronere trombose
Dis ‘n mank skisofreen – met ‘n versteende been / En die oom in die boom het tragoom.
Selfs hierdie toondoof, onmusieklike ou man word beweeg om sy heupe ritmies te swaai. Sing saam – in die stort of waar ookal. Dis net lekker.
Die geboorte van een Ollieliedjie onthou ek of dit gister was. Ek was hoofsubredakteur en was nog op soek na een lekker storie om dit daardie dag ‘n goeie voorblad te maak. Volgende oomblik: hier’s hy. Dis ‘n storie van ‘n aangrypende olifantdrama in die Addopark wat pas per teleks opgedaag het van die destydse susterskoerant in die Baai, Oosterlig.
Sub gou, Ollie, sê ek (wat hoofsub was) vir my regterhand, Lekker storie, sê Ollie toe hy begin lees. Inderdaad. Voorbladstof van die eerste water.

As subs plesierig raak: ek, Paul en Ollie.
Ouma, ‘n gedaan ou olifantkoei in Addo, is deur die leierbul, Hapoor, ‘n genadedood toegedien. Die vorige paar dae was Ouma al slingerend. Genoeg is genoeg, het Hapoor besluit. Agter ‘n bos het hy een van sy lang ivoortande diep in haar hart gedruk. Met haar bloed druppend van die tand, het hy van agter ‘n bos tevoorskyn gekom.
Daarop lei hy die trop na Ouma en rangskik hulle om die karkas. Hy het hulle as ‘t ware uitgedaag om sy daad te bevraagteken. Geeneen het nie. In die stroewe ritueel wat gevolg het, het elkeen aan die karkas geruik en opsygestaan. Haar seun Lanky het alleen oorgebly vir ‘n doodswaak.
Nog dieselfde middag het Ollie oor Hapoor en Ouma ‘n liedjie gemaak: ”Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot ….” In plesierige oomblikke het ons span subs oor ‘n bier (ná werk natuurlik) graag Ollieliedjies soos dié aangehef.
Ollie se skeppende talente het geen einde of ophou geken nie.

Ollie se webblad vir Tokkie60
Hy het hom as ondersoekende joernalis onderskei en het ’n deurslaggewende rol gespeel om die storie van Racheltjie de Beer as ‘n Suid-Afrikaanse variasie van ’n ware Amerikaanse insident te ontmasker.
In sy aftrede het hy ook begin om uitstekende politieke briewe aan koerante te skryf – soms in “immaculate English”.
Toe gade Tokkie 60 geword – ook al amper 20 jaar gelede – het Ollie vir my ‘n stylvolle webblad ontwerp om die mylpaal te vier.
Daar was waarlik net een Ollie – duplisering van sulke enorme kreatiwiteit in een mens is eenvoudig nie moontlik nie.