Dat spioenbaas Niël Barnard op Gansbaai – Gansbaai! – te ruste gaan, wek herinneringe aan my eerste besoek aan daardie wyke.
In Januarie 1983 bring die nuwe besturende direkteur van Naspers, Ton Vosloo, sy vier koeranteredakteurs en die politieke redakteur van die groep ‘n naweek op Franskraal deur.
Die redakteurs is Wiets Beukes (Die Burger), Willem Wepener (Beeld), Hennie van Deventer (Die Volksblad) en Chris Moolman (Oosterlig). Die politieke redakteur is Alf Ries, alombekend as doyen van die persgalery van die Volksraad. Beukes en Ries is mede- eienaars van ‘n strandhuis teenaan die see en hulle is die gashere.
Vrydagaand word vis gebraai en heelwat wyn gebruik. Vroegoggend die Saterdag soek die spannetjie met seer harte na die verfrissing van branders en koue seewater.
Hulle verkas na Uilenskraalmond. Die meeste van die manne stroop hul hemde, duik in die branders, plas en jil.
Meteens kom ‘n ander gedaante uit die branders te voorskyn met water wat uit sy hare drup. Dit groet oor en weer. Later stap die Naspersmanne en die onbekende nuweling gesels-gesels uit die branders. Op die strand gryp elkeen sy handdoek om af te droog, maar die gesels duur voort. Lyk soos ‘n lang agenda …
Wie die onbekende nuweling was? Niemand minder nie as die nimlike Niël Barnard, wat kort tevore deur P.W. Botha met die hand uitgesoek en by Kovsies gaan haal is om die Nasionale Intelligensiediens te lei.
Daardie oggend het Alf Ries foto’s geneem soos die een hierbo: Moolman, Wepener, Vosloo, Van Deventer, Beukes in hul baaiklere. Hoekom Barnard nie saam met ons afgeneem is nie, kan ek nie onthou nie. Dalk wou hy nie. So ‘n foto sou verleentheid kon wek, het hy dalk geredeneer: NI se topman met die leiergroep van die Afrikaanse koerante op ‘n verlate strand op ‘n Saterdagoggend!
Daardie verleentheidspotensiaal is ook deur ons persmanne later besef. Ons het oor ‘n bier of twee om die vuur daaroor saamgelag, en in ons verbeelding die foto plus prominente berig oor ons “secret meeting” op die “Sunday Times” se voorblad gesien.
Die ontmoeting was inderdaad absoluut ongeskeduleer. Die Barnards het toe al n vakansiehuis by Gansbaai gehad – dalk die een waarin hy tot die einde gewoon het. Ons het bloot op dieselfde tyd op dieselfde dag op dieselfde strand behoefte aan son en seewater op ons lywe gehad.
Gehreime ontmoetings met Barnard was daar later tog wel. Die ene by Vosloo se destydse woning in Wynberg met die interessante naam “Spyglass Hill” het ek elders vermeld.
Ebbe Dommisse het toe al by Die Burger by Wiets Beukes oorgeneem, as ek reg onthou. Daardie dag het ons by ‘n vuurtjie groot dinge gesels, soos oor die gesukkel om Suid-Afrika op die pad van groter geregtigheid vir almal te kry. Barnard het ons ingelig oor klandestiene inisiatiewe rondom Nelson Mandela.
Hy was toe nog nie kwaad vir die pers nie
Deel dit: