Almal bo ‘n sekere ouderdom is in die vertreksaal, wagtende op hul eie vlug/vaart om te vertrek. Van die gesegde kan kwalik ‘n treffender illustrasie bestaan as ‘n foto in die pamflet vir kollega Jean le Roux se gedenkdiens die week.Die foto beeld hom uit op Rotterdam se hawe op pad vir ‘n vaart na Noorwee. Dit word ook op die dankieboodskap (hierby) afgedruk.
Uit daardie pamflet -‘n kunswerk uit eie reg- wil ek graag nog drie dinge deel.
Die eerste is ‘n goeie naam vir ‘n groepie afgetredenes wat ‘n saameet-klub bedryf, soos Jean en sy Burger-span van die jare 90 gedoen het. Hulle het hulleself die Romeo’s genoem: Retired Old Men Eating Out.
Nommers twee en drie is stories uit ‘n bydrae deur sy vriend en kollega Jas du Preez oor Jean se minder roemryke sportloopbaan.
Jas vertel hy het ‘n keer saam met Jean in ‘n gholfdag gespeel. Op die eerste bof – net voordat hulle afslaan – vra hy hulle aandag en kondig aan dat, soos hulle weet, hy nie ‘n wonderlike gholfspeler is nie. Dit irriteer hom egter as hy ‘n swak hou speel en almal doer kyk. Hulle mag maar lag.
Ná die derde bof kyk hy hulke aan en laat hoor: :”Ek het nie gesê julle moet julle slap lag nie!”
Jas deel voorts mee: Jean het vir sy skool se eerste span slot gespeel, maar nooit ‘n drie gedruk nie. ‘n Keer is daar ‘n lynstaan naby die opponente se doellyn. Hy kry die bal en sien ‘n oop doellyn voor hom. Hy draf deur vir sy eerste drie. Hy wou dit op ‘n klassieke manier doen en die bal met een hand neersit soos ‘n wafferse agterspeler. Ongelukkig druk hy die bal op sy voet en skop dit oor die doodlyn – en dit voor die hele skool.
As ek iets mag byvoeg, sou dit wees dat staatmaker Jean weg van die sportveld af baie skitterende bofhoue geslaan en talle keer agter die doellyn gaan kuier het. Hy was vir enige span baie punte werd, die ou grote met o.m. ook die wonderlike vermoë om vir homself te lag