Hello Dolly … Die grinterige stem van Louis Armstrong maal in my gedagtes as ek deur Beeld se laaste uitgawe blaai en die honderde foto’s bekyk van ‘n lesersgemeenskap wat aan die einde van die pad vir hul koerant simbolies uitroep: Ons is Beeld.
Op die maat van die gewilde “Satchmo”- liedjie begroet ek amper op elke blad ‘n bekend gesig: Hello Herman (le Roux), hello Carl (Louwrens), hello Rina (le Roux), hello Elsa (Kruger)….
Word die naspeuring van die foto’s nie ‘n heerlike herontdekkings-avontuur nie: van skoolmaats tot studentemaats, skrams kennisse tot kollegas met wie jare lank skouer aan skouer saamgewerk is. Amper elke era van ‘n leeftyd is verteenwoordig.
Armstrong begroet Dolly hartlik soos volg: ”You’re lookin’ swell, Dolly / I can tell, Dolly / You’re still glowin’, you’re still crowin’ / You’re still goin’ strong.” Te oordeel na die foto’s sal ek die vleiende woorde ongelukkig net selektief van toepassing kan maak op die gesiggies wat van die koerantbladsye af na my glimlag.
Party lyk heelwat “sweller” as ander, moet ek helaas erken, maar ek is nietemin dankbaar om elkeen te sien en herinneringe oor vorige raaklope op te roep.
Hoeveel keer was ek nie byvoorbeeld in ds. Carl Louwrens, nou afgetree, se kerk in Skukuza in die Krugerwildtuin nie; hoe lank het ek en Herman le Roux, sportredakteur van faam, nie in redaksies saam teen spertye gejaag nie, hoeveel jaar gelede was ek en Johann Lemmer, oud-hoof van die Transvaalse Onderwysersverenigng, nie saam in Volkies op Potchefstroom se Jack Pauw-koshuis nie? So bring elke foto van ‘n kennis sy eie konneksies na vore.
Buiten Johann Lemmer is uit Volkiedae ook die teenwoordigheid van ‘n borrelende Laetitia le Roux (later getroud met ds. Willie Botha) op ‘n foto. Vir haar het ek in 1974 – stigtingsjaar van Beeld – laas gesien: direk vooor my in die tou by ‘n opvoering van Agathie Christie se immergroen-treffer The Mousetrap in die West End in Londen. Ek was juis op besoek rakende die nuwe koerant.

Regte Beeldblad
Uit my Tukkiedae kom dr. Kobus Terblanche van Middelburg. Ons was nie net in dieselfde koshuis, Kollege-tehuis nie, maar in dieselfde gang op die grondverdieping in 1962. Baie jare het ek hom net geken aan sy gereelde briewe in koerante. Toe loop ons mekaar ná ses dekades op Kaapsehoop raak met die bekendstelling van die Beeld 50-boek.
My eerste Volksblad-verbintenis was in die 60’s in die tydvak van Oom Bart Zaaiman met sy gevreesde rooi pen. Hy had ‘n dogter, Marietjie. Sy het haar pa se liefde vir Afrikaans geërf. Nou die eggenote van ds. Koos Kriel van die Laeveld het sy met die alias Marie van Mbombela briewe op Beeld laat reën. Ek het die Kriels ook op Kaapsehoop gesien, en sien julle periodiek op Melkbos waar hulle vakansie hou. Het dadelik hul foto herken.
In 1974 is ek aangestel as nuusredakteur van die stigte Beeld. In die Gideonsbende wat uit Boemfontein Noorde toe is, was ook Pedro Diederichs. Hy het nuusredakteur in Pretoria geword en later ‘n professor. Op sy foto wys hy trots die eerste uitgawe.
Aan die einde van 1974 bring ‘n pa van Potchefstroom sy knap Puk-dogter en haar vriendin Beeld toe waar hulle as groentjies inval. Sy streng opdrag aan my, die nuusredakteur: Ek gee hulle in jou hande. Pas hulle mooi op. Die dogter was Elsa Kruger (later Godden) en die vriendin wyle Salome Jacobs (later Brown). Elsa lyk op haar foto op ‘n haar na die iong Elsa. “Youré looking swell, Elsa …”
Met my terugkeer na Bloemfontein in 1980 was een van my eerste aksies om Herman le Roux ‘n assistant-redakteur te maak. Ons kollegiale kameraderie het ‘n hegte vriendskap geword, Herman, Rina, hul dogter Michelle en haar man, Frans Marais, pryk almal as Beeld-gesiggies.
Ons gesinne kuier elke jaar in die bos – Sabiepark en Burchell’s Lodge – en was ook saam in Kaapsehoop met die boekefees. Trouens, dat ek ‘n laaste uitgawe van Beeld in die hande kan hou, is te danke aan Frans en Michelle. Wat ‘n waardevolle geskenk. Dankie, julle twee.
In my laaste jare by die Nasionale Pers was een van die kollegas in die Perssentrum in Kaapstad die joviale taalman dr. Karel Prinsloo, nou o.m, uitgewer van die tydskrif Plus 50. Ek was nie verras om Karel se foto in die Beeld-galery te sien nie.
In my aftreejare het ek by reünies ‘n hele garde klasmaats van my vrou, Tokkie, ontmoet. Een is die hoofseun van die Hoërskool Bultfontein in 1963, Koot Muller. Twee jaar gelede by hul matriek-plus-60-fees was ons saam om ‘n skaap op die spit. Ook dat die soliede Koot ‘n getroue Beeldleser was, is geen verrassing nie.
Wat opval, is hoeveel van die span wat saam met die laaste uitgawe onmiddellike Africana geword het, gereelde briefskrywers was. Die cliché van “te veel om op te noem”, is absoluut geldig. Ek gaan my nie aan so ‘n uitdagende taak versondig nie. Maar een gaping … nee twee … wil ek tog vat.
Om te sien hoe “Koos van die Waterberg” agter sy alias lyk, was vir my heuglik oor ‘n pluimpie wat hy my ‘n keer gegee het na aanleiding van ‘n huldeblyk vir wyle appèlregter Gustav Hoexter vir wie ek grenslose respek gehad het. Dankie, Koos, as jy dalk hier lees. Jou pluimpie het nie ongesiens verbygegaan nie.
Ditto vir die kennismaking met Nols en Antoinette Schoeman van Riebeeckstad, Welkom. Kyk, die Antoinette is ‘n ster met briewe. Niemand kan haar raak as dit by volume en verskeidenheid kom, en veral die verskeidenheid publikasies waarin sy figureer en gereeld pryse wen nie. Dat sy ‘n Facebook-vriend is, soos hope ander Beeld-gesiggies, gee aan daardie vermaledyde begrip ‘n waardige inhoud.
Dan is sy die tante (en Nols die oom) van ‘n kollega vir wie ek baie tyd gehad het en wat gans te vroeg dood is. Hy was ook ‘n Nols, naamlik Nols Nieman van Die Volksblad.
In 1977 op ‘n Besoek aan Disney World by Orlando, Florida, was ons gesin op ‘n bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums. Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, het aanhoudend in vyf tale gesing: “I’ts a small world”.
Beeld se laaste utgawe oortuig jou op sy eie – baie spesiale – manier ook van hierdie waarheid. Dis werklik ‘n “small world after all”.