‘n Sleg ding het Johan Viljoen op sy eerste besoek aan Nuweland oorgekom.
Johan, my niggie Elise se man, wat hierdie week kort na haar in Pretoria oorlede is, kon van daardie ontnugtering altyd met groot smaak vertel as jy hom uitvra.
Die onugtering was nie op die veld nie. Trouens, sy geliefde Rooibontes van Transvaal het daardie dag ‘n taamlik seldsame sege oor die Streeptruie van die WP behaal. Maar desondanks was sy beker bitter.
Die Viljoens het vir ‘n paar jaar van Pretoria Kaap toe geskuif. Dit was in die 70’s of 80’s. Hulle koop ‘n huis in Kommandeurstraat, Welgemoed, naby die hoek met Kommissarisstraat. Hy gaan maak kennis met die eienaar van die winkel op die hoek – wat nou ‘n Pick ‘n Pay is – en gou gesels hulle lekker rugby.
Johan spreek die wens uit om die Saterdag die Rooibontes op Nuweland te sien speel en die eienaar bied gul aan: Kom saam met ons. Hy en sy vriende het ‘n ekstra kaartjie en ‘n gaatjie in die voertuig.
Als verloop gesellig en aangenaam totdat die Rooibontes die voortou neem. Hoe meer Johan opspring en juig, des te stuurser raak sy gashere. Rustyd gaan loop hulle ‘n draai. En hulle kom nie terug nie.
Toe die eindfluitjie blaas weet Johan nie herwaarts of derwaarts nie. Hy val in by ‘n klompie wat skynbaar doelgerig iewers heen op pad is. Daardie “iewers” is toe die Foresters Arms Pub (ook bekend as Forries).
Dis al goed donker toe die telefoon lui en Elise in Welgemoed die smeekstemmetjie hoor: Jy sal my moet kom haal.
Eers weier sy volstrek. Watter kant is Nuweland? En die hotel met daardie snaakse naam? Hoe ry ‘n mens in hierdie wildvreemde plek? Hy kan dit mos nie van haar verwag nie.
Maar sy penarie sink in. Daar sit die arme man sonder geld by ‘n vreemde hotel in ‘n vreemde stad. Hy is verslae en verlore. En hy is immers haar eggenoot.
Toe gaan soek sy Nuweland. Dis laat toe sy na verkeerd ry hier en verkeerd ry daar uiteindelik by die hotel stop waar ‘n paar barmhartige Samaritane intussen vir die eensame Rooibont-ondersteuner ‘n dop of twee gekoop het.
Trouens, hy kuier toe al so lekker dat hy half vies is toe hy die bekende gesig by die kroeg se deur gewaar. Maar daar kry hulle tog toe koers huis toe, sy opnuut verdwaal en onseker en hy van geen hulp nie; babbel net oor die goeie rugby wat hy gesien het.
Teen middernag was hulle tuis in Welgemoed. Die surigheid het effens langer geneem om te wyk.
NASKRIF: Elise (82) is verlede Dinsdag taamlik skielik by haar huis in Pretoria oorlede. ‘n Erg verswakte Johan (87) het ses dae later gevolg.