Op ’n dag het ek ’n brief van Bybelkor ontvang, koelbloedig gerig aan “Geagte mnr. Van Deventer ‘Pens’”.
Waarop ek toe aan ds. Hans Linde, destydse uitvoerende direkteur, terugskryf: “U skryf aan my as … ‘Pens’. Ek kan kategories stel dat ‘Pens’ (met of sonder aanhalingstekens) nooit deel van my van was nie. Ek is ook onbewus van so ’n bynaam, hoewel dit uit ’n fisieke hoek nie misplaas sou wees nie.”
Toe ek die liewe ds. Linde nou die dag by ‘n begrafnis raakloop, onthou ek die gedoente glashelder. As iemand jou so aan die “pens”-velle beetgekry het, vergeet jy dit nie sommer nie!
Ewenwel, ná my reaksie skryf hy toe, in alle erns, terug: Die vlaggie ‘Pens’ verskyn agter meer as een naam op ’n adreslys, wat van ’n ander instansie ontvang is. Hy vermoed dat dit ’n aanduiding is dat die betrokke persoon ’n pensioentrekker is.
Inderdaad, ds. Linde, inderdaad! So was dit op ‘n adreslys van Nasionale Tydskrifte, wat daardie vabonde blykbaar aan die Kerk loop en smous het (seker ten duurste!).
En dis korrek: die vlaggie ‘Pens’ beteken wel pensioentrekker. Maar ek was darem nie regtig omgekrap nie, hoor!
Hoekom dit hier ophaal? Die sleutel is in die laaste lyntjie van die inleidingsparagraaf: dat so ’n bynaam vir die uwe “uit ’n fisieke hoek nie misplaas sou wees nie”. So was dit in 2002 toe daardie korrespondensie plaasgevind het. So is dit – spyt my waternat om dit te bely – op die datum van skrywe des te meer die geval.
Daardie bynaam sou inderdaad uit ’n fisieke hoek al hoe minder misplaas geword het. Jammer, geen foto hierby nie. Sensuur word om sensitiewe persoonlike redes toegepas.
Deel dit: