Die digbundel “Kleinwild” (HAUM, 1978) was Hans du Plessis se heel eerste gepubliseerde skryfwerk (meen ek). Voorin die eksemplaar in my studeerkamer het hy geskryf: (die vers) “Halloween” is vir julle. Julle was by toe hy gebore is!
Inderdaad was ek en Tokkie en ons kinders, Johan en Marisa, in die omtrek. Dit was in 1976 in Amerika. Halloween is daardie jaar op 31 Oktober gevier – amper dag en datum 48 jaar voor sy skielike afsterwe gister op Potchefstroom kort voor sy 80ste veraardag in Januarie. Ons spannetjie Suid-Afrikaners het ons in Cambridge, Massachusetts, verkyk aan die ongekende magdom pampoenspoke oral.
Die Van Deventers en die wellewende Hans het groot maats geword nadat hy ‘n maand of wat tevore op ‘n dag onverwags saam met besoekers uit Suid-Afrika by ons beskeie woonstelletjie in Crimson Court in Harvard Street opgedaag het.
Hy het die egpaar, twee Potchefstromers, op die hoek voor die moltreinstasie Harvard Square hoor Afrikaans praat, homself voorgestel en saam kom kennis maak. Magdaleen en die kinders was in Suid-Afrika en die graswewenaar maar bra eensaam in sy losieskamer.
Hans was ‘n nagraadse student aan MIT (Massachusetts Institute for Technology) en ek ‘n Niemangenoot by Harvard. ‘n Hegte vriendskap het vinnig koersgevat. Naweke is ons in my gebruikte 1972-model Toyota Corona Merk II-stasiewa saam op verkenningstogte New England binne.
Hy was ook ‘n betroubare babawagter … in ruil vir Tokkie se lekker Boerekos. Johan was toe vyf en Marisa wat Hans juis na aanleiding van die Halloween-gedoente Pampoenspokie gedoop het, ‘n energieke drie. Hulle het gou lief geword vir Oom Hans met sy stories, presentjies en nog wat.
’n Keer of wat was Hans selfs ‘n oornaggas in die stasiewa. Ons gesin was agterin soos sardientjies ingepak; hy het hom agter die stuurwiel ingewikkel. Soggens was sy litte maar stram. Op ‘n besoek aan die skilderagtige Cape Cod besluit hy een oggend: tot hiertoe en nie verder nie. Toe gaan soek hy ’n motel.
Só ontwikkel ’n voordelige sisteem. Op alle uitstappies daarna verskaf ons die wiele, Hans die badkamer. Ons parkeer gerieflik by sy kamerdeur. Daardie Merk II was die enigste stasiewaentjie met ’n badkamer en suite waarvan ek nog gehoor het.
Oor Hans sal daar vele kundige huldeblyke wees wat sy enorme bydrae tot Afrikaans en ons literatuur gesaghebbend sal ontleed. Ek waag my nie daaraan nie. Net een iets wil ek in hierdie opsig kwytraak. Dit is oor sy Griekwapsalms wat dermate volksbesit geword het dat baie die herkoms vergeet.
Oral duik sy werk op – by Kerssangdienste en selfs op kopkussings en tafeldoeke – sonder enige vermelding van die digter, asof dit sommer net uit die lug geval het of vir altyd bestaan het. Nie-erkenning is natuurlik in geen omstandighede goed te praat nie, maar in sy geval tog ‘n soort omgekeerde “eer” wat min beskore is, meen ek.
Oor die warmte van sy besonderse menswees sal ‘n hoop getuienis opstapel. Ek steek my hand geesdriftig op om ook raakgesien te word wanneer ek vrymoedig wil verklaar dat Hans du Plessis die soort vriend was waarvoor elkeen wat hom geken het, deur die vuur sou loop. Dat hy ‘n vyand op aarde gehad het, lyk vir die waarnemer uiters onwaarskynlik.
Die foto hierby is in 2016 by die Proteaboekwinkel op Stellenbosch geneem met die bekendstelling van sy boek “Tussen die klippe”. Die fotograaf, Tokkie, se lakonieke kommentaar was: Julle twee sal nie meer in een motor kan slaap nie. Kan nie stry nie.
Naskrif:
Halloween
Ek voel jou oë huil /nat oor my warm wang / as ons mekaar/ soms / in die lig /agter hierdie maskers vang
Want hoe lank al speel ek en jy / aan hierdie ou spel
Waar die hol pampoen / alleen kan sonde doen.